Local newsNews

Vroue leer om stoele te maak

Om jou eie stoel te maak en dan nog ’n spoggerige een daarby, is nie elkeen beskore nie.

’n Groepie vroue van Mookgophong en Modimolle het op Donderdag 24 September die geleentheid aangegryp om elkeen ’n lieflike vlerkstoel (“wingback”) te maak.

“Ons het die oggend met ’n hopie plankies begin en teen die aand het ons elkeen ’n stoel huis toe geneem,” het Gerda Swanepoel, een van die kursusganger, aan Die Pos vertel.

Wendy Du Plessis, wat ook die werkwinkel bygewoon het, het gesê dit was baie bevredigend, maar dat sy nou meer respek het vir iemand wat dit as voltydse werk doen en sy sal eerder iemand betaal om dit te doen.

Swanepoel het die reëlings getref en die 11 vroue bymekaar gekry om dié ongewone vaardigheid aan te leer. Die kursus het een dag geduur en is in die ontvangslokaal van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong aangebied.

Die vroue moes self die gereedskap gebruik om die raamwerk van die stoele te bou. Hulle kon hul eie stoffeermateriaal voorsien of uit die wye verskeidenheid van die kursusaanbieders kies.

Juan en Amanda Pistorius van Vander- bijlpark het die kursus aangebied. Amanda het vertel hulle reis die land vol om mense touwys te maak in die die vervaardiging van gestoffeerde meubels. Sy het gesê ’n ander gesogte artikel wat kursusgangers graag wil maak, is ’n gestoffeerde voetstoel of ottoman.

Amanda het aanvanklik binnehuisontwerp behartig, maar sy en Juan het ongeveer drie jaar gelede besluit om mense op te lei om self meubelstukke te maak en volgens hul smaak te stoffeer.

“Mense het partykeer nie die geld om ’n bestaande meubelstuk nuut te laat stoffeer nie. Ek het besef ek kan hulle leer om die meubelstuk te stroop en dan weer te laat herleef met nuwe materiaal. Ons wys hul stap vir stap hoe om ’n stoel oor te trek,” het sy vertel.

Die twee doen ook evangelisasiewerk waar hulle die geleentheid kry.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button