Die teenwoordigheid van ’n polisiehelikopter van Polokwane het ook baie aandag getrek.
Die voorval het voor die Creativity-klerewinkel plaasgevind. Die skare was in hul skik met die polisie se reaksie en het spontaan begin hande klap toe die polisievoertuie weggetrek het.
ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT:
Daar is aanvanklik beweer dat vier mense die oggend by ’n rooftog betrokke was, maar volgens sers. Frans Maponya, polisiewoordvoerder, is die vier mans aangekeer weens die besit van vermoedelik gesteelde voertuie. Daar is op twee Volkswagen Polo-voertuie beslag gelê.
“Die polisie was besig met ’n optrede in die Waterberg-distrik en het die twee verdagte voertuie voor die winkel gewaar en ondersoek ingestel,” het Maponya gesê.
Die operasie is geloods om misdaadvoorkoming te verbeter.
“Ondersoekwerk het getoon daar is met die betrokke voertuie se enjinnommers gepeuter. Daar het geen rooftog plaasgevind nie en die verdagtes het ook geen vuurwapens by hulle gehad nie,” het hy gesê.
Inwoners was uiters behoedsaam omdat daar op Woensdag 16 September ’n rooftog by Ackermans, direk langs Creativity, plaasgevind het.
Maponya het gesê vier gewapende verdagtes het twee dae tevore die Ackermans-winkel betree, die personeel aangehou en toe met ’n onbekende bedrag kontant en selfone op die vlug geslaan.
Dié groep het in ’n silwerkleurige VW Polo met ’n Oos-Kaapse nommerplaat gevlug. Hulle is nog op vrye voet.
Die verdagtes wat Vrydag aangekeer is, is volgens die polisie inwoners van Giyani en Soshanguve. Hulle sal eersdaags in die landdroshof in Bela-Bela verskyn.
Maponya het gesê verdere ondersoek sal bepaal of die groep met ander misdade verbind word.
Baie dankie aan André Kock en Seun sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.