Local newsNews

Stakers verhoed dat liggame verwyder word

Bedroefde families se hartseer is die afgelope week vererger deur ’n staking van gegriefde begrafnisondernemers wat landwyd geweier het dat liggame uit staats- en privaat hospitale of privaat wonings verwyder word.

Stakers het ook in die Waterberg die begrafnisondernemers wat nie aan die staking deelneem nie, verhoed om hul werk te doen.

Die stakers behoort aan die Unification Task Team van die Nasionale Vereniging van Begrafnisondernemings en het gedreig om te verseker dat geen begrafnisse gehou sal word nie indien die regering nie teen Woensdag 16 September aan hul eise gehoor gee nie.

Van hul eise sluit in dat die uitkontraktering van lykshuisgeriewe gewettig word en dat versekeringsmaatskappye nie as begrafnisondernemings mag werk nie, want hulle kan nie daarmee meeding nie.

Volgens Wim Meyer van Status Begrafnisdienste in Modimolle kon hulle op Maandag 14 September voortgaan met hul werk, maar op Dinsdag 15 September het ’n groep stakers hulle verhoed om ’n liggaam by die F.H. Odendaal-hospitaal te verwyder nadat hulle deur die familie en die hospitaal gekontak is.

Kort daarna het nege voertuie met stakers by hul onderneming in die nywerheidsgebied opgedaag en daarop aangedring dat hulle hul deure sluit.

“Dit is onmenslike optrede wat families wat reeds hartseer is, verder ontstel,” het hy gesê.

“Families weet nie wat hulle te doen staan as die liggame van ’n geliefde nie afgehaal kan word nie.”

Solly Maphologela, woordvoerder van die hospitaal, het gesê hulle is deur die stakers in kennis gestel dat hulle die verwydering van liggame sal verhoed.

Die stakers het gou weer verdwyn. Heila van der Merwe van Bafa-begrafnisondernemers in Bela-Bela het bevestig dat stakers ook ondernemers in dié dorp verhoed het om hul werk te doen.

“Hulle het by al die begrafnisondernemers aangekom en gesê hulle mag nie liggame verwyder nie. Daar is ook stakers by die Bela-Bela-hospitaal.”

Nog ’n ondernemer, wat anoniem wou bly, het gesê hulle sal wel maniere vind om die liggame te verwyder, selfs al moet dit na-ure gedoen word of hulle deur vei- ligheidsdienste vergesel word. Die woordvoerder van die Bela-Bela-hospitaal kon teen druktyd nie bereik word nie.

Related Articles

Back to top button