MunicipalNews

Diensleweringsprobleme eersdaags per SMS aangemeld, sê munisipaliteit

Die munisipaliteit beskik tans oor slegs een klagtelyn en mense wat inbel, kla dat hul oproepe herlei word na ’n selfoon wat nie beantwoord word nie.

Bela-Bela-inwoners sal eersdaags alle diensleweringsprobleme deur middel van ’n SMS-boodskap kan aanmeld.

Die munisipaliteit het dié stap aangekondig ná volgehoue druk oor swak dienslewering en ’n gebrek aan kommunikasie tussen die gemeenskap en die munisipaliteit.

Die munisipaliteit beskik tans oor slegs een klagtelyn en mense wat inbel, kla dat hul oproepe herlei word na ’n selfoon wat nie beantwoord word nie.

Die munisipaliteit se skakelafdeling het vroeër aan Die Pos gesê die Covid-19-maatreëls het ’n bykomende las op dié instansie geplaas omdat slegs ’n derde van alle werknemers tans by hul onderskeie werkplekke is.

Dit sluit personeellede in wat oproepe van die publiek moet hanteer. Dié besluit is glo geneem om die verspreiding van die Covid-19-virus te bekamp. Inwoners het sedert die begin van die inperking einde Maart Die Pos se telefoonlyne warm gebel om te kla omdat daar klaarblyklik “niemand tuis” is by die Bela-Bela-munisipaliteit nie.

Bela-Bela bestaan uit nege wyke met nege wyksraadslede. Die nuwe beoogde diensleweringstelsel beoog ’n Whatsapp-groep vir elke wyk. Die betrokke wyksraadslid sal dan in beheer wees van sy of haar wyk se groep en verantwoordelik daarvoor wees om klagtes wat ontvang word aan die munisipaliteit deur te gee.

Die munisipaliteit versoek inwoners intussen om met hul raadslede in verbinding te tree en hul kontakbesonderhede te verskaf om op dié groepe gevoeg te word.

Tinus Ras, DA-raadslid van Wyk 1, het aan Die Pos gesê inwoners moet verkieslik hul klagtes in Engels stuur sodat kommunikasie vinniger aan amptenare deurgestuur kan word. Die voorlopige reëls van die groep is dat inwoners slegs diensleweringsprobleme op die groep mag aanmeld met spesifieke detail oor die omvang en ligging.

Enigiemand wat die groep misbruik, sal van die groep afgehaal word. David Raborolo, munisipale hoof van kommunikasie, het die vertroue uitgespreek dat selfoontegnologie ’n positiewe uitwerking op die hantering van klagtes en navrae sal hê.

  • Wyk 1-inwoners kan vir Ras bel by tel. 082 650 1185.

Related Articles

Back to top button