MunicipalNews

Munisipale deure toe oor virus

Die munisipale kantore in Modimolle was vandeesweek gesluit nadat ’n werknemer positief vir die Covid-19-virus getoets is.

’n Span werkers het gedurende die naweek die munisipale kantore ontsmet, het Patrick Shika, munisipale woordvoerder, gesê.

Die betrokke werknemer is volgens die munisipaliteit by die werkwinkel betrokke, maar was in kontak met personeellede van die menslike hulpbronne-afdeling.

Alle kantore is veiligheidshalwe tydelik gesluit, maar sou weer op Dinsdag 14 September hul deure open, het Shika gesê.

Diegene wat in kontak was met die siek werknemer is vir 10 dae in tuisisolasie en het hulle laat toets vir die virus.

“Die werknemer het simptome van die virus ontwikkel en ’n dokter gaan sien. Hy het positief vir die virus getoets, maar sy toestand is nie ernstig nie. Gelukkig werk die personeellede by die werkwinkel as voorkomende maatreël in spanne en nie almal was met hom in kontak nie,” het Shika gesê.

Shika het gewaarsku dat mense deesdae minder waaksaam is en nie getrou hul maskers dra nie of groot gesellighede bywoon.

“Mense moet steeds uiters versigtig bly.”

Syfers wat op Saterdag 12 September deur die provinsiale departement van gesondheid beskikbaar gestel is, het aangedui daar is 28 siek mense in die Modimolle-Mookgophong-munisipale gebied. Die departement het gesê daar is tot dusver 528 gevalle in die munisipale gebied aangemeld en sewe mense is dood aan die virus.

Daar was 16 mense in Bela-Bela wat steeds siek was uit die 197 gevalle wat tot dusver aangemeld is en ses mense wat aan die virus gesterf het.

Daar was 12 siek mense in Thabazimbi uit die 1 791 gevalle wat aangemeld is en nege sterfgevalle. In Lephalale was daar steeds 22 siekes uit die 464 gevalle wat aangemeld is en in Mogalakwena (Mokopane) was 11 mense uit die 182 aangemelde gevalle steeds siek.

Related Articles

Back to top button