NewsSchools

Warries, Rassies en Piet Pot is vies vir Hansies

Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, een van die gewildste skole in die Waterberg wat spog met van die beste koshuis- en sportgeriewe, word daarvan beskuldig dat hulle leerders weglok uit buurskole se voedingsgebiede.

’n Dekadelange vete oor die beweerde afrokkeling van leerders is die afgelope week op die spits gedryf toe Hoërskool Warmbad ’n mosie ingedien het wat versoek dat Hoërskool Hans Strijdom uit die gewilde jaarlikse Bosveld Interhoër-byeenkoms geskop word.

Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, een van die gewildste skole in die Waterberg wat spog met van die beste koshuis- en sportgeriewe, word daarvan beskuldig dat hulle leerders weglok uit buurskole se voedingsgebiede.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Die Pos het die mosie onder oë gehad. Hoërskool Hans Strijdom word in die mosie daarvan beskuldig dat hulle leerders van buurdorpe “afrokkel” — soms met beloftes van finansiële bystand.

Hoërskool Warmbad voer aan dat hulle al voorheen hieroor met die Hansies koppe gestamp het, maar dat daar nie gehoor gegee is aan hul klagtes en versoeke nie.

Die jaarlikse Bosveld Interhoër-atletiekbyeenkoms is ’n spoggeleentheid in die Waterberg waar atlete van Hoërskole Warmbad, Nylstroom, Hans Strijdom, Ben Viljoen (Groblersdal), Ellisras, Piet Potgieter (Mokopane) en Frikkie Meyer (Thabazimbi) hul staal wys.

Elke skool kry ’n beurt om dié prestige-geleentheid aan te bied. Die mosie is tydens ’n onlangse vergadering ondersteun deur die hoofde van Hoërskole Ellisras, Piet Potgieter en Warmbad. Paul Liddle, Hoërskool Warmbad se skoolhoof, het by navraag gesê die Hansies volg ’n “aggressiewe” bemarkingsveldtog waaronder ander Waterberg-skole ly.

Al drie skole het gevra dat hierdie bemarkingstrategie onmiddellik gestaak word.

“’n Mens kan nie ’n geldwaarde aan ’n kind heg nie. Ons glo die beste skool is die skool die naaste aan die ouerhuis. Ouers moet ernstig besin daaroor om hul kinders na buurskole te stuur, maar ek dink nie dit word altyd gedoen nie,” het hy gesê.

Die mosie is egter deur die hoofde van Hoërskole Hans Strijdom, Nylstroom, Ben Viljoen en Frikkie Meyer teengestaan en dus met een stem verwerp.

Rinus de Jager, hoof van Hoërskool Hans Strijdom, het in reaksie gesê die finale besluit het bepaal dat die status quo tot in 2022 gehandhaaf word en die Hansies sal dus deel bly van die Bosveld Interhoër.

“Daar is na albei kante van die munt geluister, maar die mosie is met vier stemme teen drie verwerp,” het De Jager gesê. Al die betrokkenes het die uitslag aanvaar.

“Ons aanvaar die besluit dat Hoërskool Hans Strijdom steeds deel bly van die interhoërbyeenkoms. Ons voel egter steeds dat hul aggressiewe bemarkingsvedltogte hul buurskole negatief raak,” het Liddle gesê.

Liddle het voorts gesê dit bly elke ouer se besluit om hul kinders by die skool van hul keuse in te skryf, maar dit is belangrik dat hulle die beste besluit vir hul gesin en hul kind se toekoms sal neem.

“Ons vra egter dat skole mekaar se voedingsareas sal respekteer, want dit is die boodskap wat ons deur die indien van die mosie probeer bereik het. Die kompetisie wat plattelandse skole van skole in die stede ontvang, is reeds ’n uitdaging.

“Dit was nodig om die mosie in te dien sodat ons buurskole in die Waterberg ons hart kan verstaan. Ons koester geen kwade gevoelens nie. Skole op die platteland is almal onder druk en as ons nie mekaar se hande vat nie, staar ons almal groter probleme in die gesig.”


Baie dankie aan Pavecon sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button