Plaaslike rugbyspelers doen bes om fiks te bly
“Hulle oefen hard en gaan nou weer gimnasium toe. Almal is sonder twyfel uitgehonger vir rugby en is positief oor die toekoms.”
Die Covid-19-pandemie het wêreldwyd leë rugbystadions en pawiljoene veroorsaak.
Professionele spelers van sekere sportsoorte mag ingevolge die verslapte veiligheidsmaatreëls weer aan wedstryde en kompetisies deelneem.
Geen toeskouers word egter toegelaat nie. Oefeninge vir skole, klubs en provinsiale rugbyspelers is egter steeds taboe en dié spelers doen maar meestal tot verdere kennisgewing kragoefeninge in die gimnasiums.
Rugbyspelers van die Kwaggas-klub in Bela-Bela hou steeds moed en oefen op hul eie.
Volgens Drummond Hammond, klubvoorsitter, doen die spelers baie moeite om fiks te bly en nie slap te lê met hul individuele oefeningsprogramme nie.
“Hulle oefen hard en gaan nou weer gimnasium toe. Almal is sonder twyfel uitgehonger vir rugby en is positief oor die toekoms.”
Die spanlede het sedert Maart nog nie weer saam geoefen nie, maar individuele fiksheidsprogramme gevolg. Alle klubs in die Waterberg-rugbyliga was genoodsaak om aan die maatreëls, soos uiteengesit deur die departement van sport, kuns en kultuur, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) en die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU), gehoor te gee.
Die Kwagga-rugbyklub het intussen heelwat navrae ontvang van nuwe spelers wat by die klub wil aansluit, het Hammond gesê.
“Ons is bevoorreg dat ons klubbestuur steeds positief is, dat ons gereeld met mekaar kontak het en dat ons die spelers motiveer. Ons sien uit na die dag dat ons in ons nuwe spandrag kan uitdraf.”
Volgens Hammond sal klubs volgens alle aanduidings eers in 2021 weer in aksie wees.
“Ons voorlopige plan is om in Januarie te begin oefen — indien die grendelmaatreëls dit toelaat. Ons volg die reëls wat Saru en die BBRU vir ons bepaal,” het hy gesê. “Die ironie is dat ons die afgelope seisoen onoorwonne is ná die een wedstryd wat ons voor die grendeltydperk gespeel het. Ons spog dus met ’n 100%-wenpersentasie vir 2020,” het Hammond geskerts.