Oscar Mashiloane (42) word verbind met die moord op Hannes Prinsloo, ’n afgetrede boer en sakeman, wat in 2009 by sy huis in Nohaneng, ’n paar kilometer vanaf Settlers, vermoor is.
Mashiloane het op Woensdag 2 September in die Bela-Bela-landdroshof verskyn.
Hy het die polisie 11 jaar lank ontduik, maar is onlangs in Mamelodi aangekeer. Nog verdagtes word gesoek in verband met dié moord. Mashiloane se saak is intussen uitgestel na Maandag 14 September. Hy het aangedui dat hy beoog om aansoek te doen om borgtog. Hy is steeds in aanhouding.
- Die polisie het ook ’n deurbraak gemaak toe hulle ’n verdagte aangekeer het in verband met die moord verlede jaar op Simon Malebane en Daniel Ngoagamobe. Die twee mans is in die Klippan-omgewing buite Radium op ’n plaas vermoor. Malebane het op die plaas geboer en Ngoagamobe was ’n plaaswerker.
’n Polisiewoordvoerder het destyds gesê Malebane is dood nadat hy erg aangerand is. Ngoagamobe is met ’n skietwond aangetref en is op die toneel dood verklaar.
’n Verdagte, Lelimo Mafoka (21), is onlangs in Johannesburg in verband met dié misdaad aangekeer. Hy sou op Dinsdag 8 September ’n borgtogaansoek in die Bela-Bela-landdroshof bring.
Teen druktyd was die uitslag van die saak nog nie bekend. Kapt. Renier Schutte van die Bela-Bela-polisie, is die ondersoekbeampte in albei sake.