Local newsNews

Handvol betogers sit later op stoele voor toe winkeldeure

Dansende en singende EFF-lede het op Maandag 7 September die deure van Clicks in die Modi Mall versper as deel van ’n landwye protesoptrede teen ’n aanlynhaarproduk-advertensie wat die party as rassisties bestempel.

Daar het sowat 30 mans en vroue aan die betogings deelgeneem. Die groep het deur die loop van die dag al hoe kleiner geword en later het hulle op stoele voor die winkel gesit om te verseker die deure bly toe. ’n Groep mense wat gekant was teen die party se optrede, het ook met plakkate by die sentrum opgedaag.

Die twee groepe is ná ’n kort woordewisseling uiteen. Die Clicks-personeel by die Bela Mall in Bela-Bela is die oggend van die beoogde protesaksie deur die sentrumbestuur aangeraai om steeds vir werk op te daag en soos normaal te probeer sake doen terwyl die situasie deur die veiligheidsbeamptes gemoniteer word.

Plaaslike EFF-lede, met Sello Moswoeu (EFF-raadslid van die Bela-Bela-munisipaliteit aan die voorpunt), het later die oggend by die winkel opgedaag, maar teen dié tyd was Clicks, asook ander nabygeleë winkels, se deure gesluit.

EFF-lede het vir ’n ruk voor die winkel gedans en gesing. Dié Clicks-tak sou na verwagting later in die week weer hul deure open.

Die gewraakte advertensie het op Saterdag 5 September op Clicks se webwerf verskyn en hewige reaksie op sosiale media ontlok. Die advertensie beskryf onder meer swart vroue se hare as “droog en beskadig” en ’n wit vrou se hare as “normaal”. Die winkelgroep het onmiddellik gereageer. Die advertensies is verwyder en hulle het om verskoning gevra.

Dit was egter nie genoeg om die EFF te paai nie en hulle het hul voorgeneem om Clicks-winkels se deure vir die res van die week gesluit te hou. Hoewel die meeste van die betogings wat landswyd plaasgevind het, nie gewelddadig was nie, is ’n winkel in Alberton Maandagoggend aan die brand gesteek en ’n petrolbom het skade aangerig by die Clicks in Saveways Crescent in Emalahleni (Witbank).

Julius Malema, EFF-leier, het by die Clicks in die Mall of the North in Polokwane saam met leiers van die provinsiale tak betoog.

Die Clicks in die Cycad-winkelsentrum in die stad is ook beskadig nadat dit ook vermoedelik onder ’n petrolbom deurgeloop het.

Sonja Beukes, bemarkingsbestuurder van die Modi Mall, het by navraag aan Die Pos gesê hulle is voortdurend in kontak met die polisie en veiligheidsgroepe en hou die situasie fyn dop omdat die veiligheid van hul inkopiegangers hul eerste prioriteit is.

Hulle kommunikeer met hul hoofkantoor om te verseker dat die probleem op die beste manier hanteer word.

“Hier was Maandag talle bejaarde mense wat hul medikasie wou kom afhaal. Die Sassa-toelae is ook daardie dag uitbetaal.”

Sy het gesê veiligheidswagte in gewone klere het deur die sentrum beweeg om die situasie te moniteer.

“Die slegste hiervan is dat die res van die sentrum ook hierdeur beïnvloed word. Hoewel die winkels se deure oop was, het mense huiswaarts gekeer toe hulle die betogers gesien het,” het sy gesê.

Related Articles

Back to top button