BlogsOpinion

Hoofartikel: Hou aan soek na die mooi

“Groete en tot ons weer sien. Pappa.” Hoe lank nog? het ek bly wonder.

Meer as 35 jaar gelede het ek as kind my pa se bedkassie skelm oopgemaak.

Ek het ’n toegeplakte brief gekry waarop duidelik gestaan het dat dit eers ná sy dood — wat toe al onafwendbaar was — oopgemaak moes word.

Ek het die brief oopgemaak, gelees en weer versigtig toegeplak en jare lank aan die skuldgevoelens gedra oor wat ek gedoen het.

Ek kon saans nie slaap hieroor nie; veral oor die slot van die brief: “Groete en tot ons weer sien. Pappa.” Hoe lank nog? het ek bly wonder. Wanneer gaan dit gebeur? Weke van nou af? Jare?

 

Foto: freepik

 

Ná my pa se dood het my ma die brief laat tik en vir almal afskrifte gegee. Ek, die skelm klein snuffelaar, het die oorsponklike brief in my pa se handskrif gekry. Onverdiend.

Ek hou steeds ’n paar afskrifte op verskillende plekke in my huis en werkplek, wat eintlik onnodig is, want ek ken die brief uit my kop. En elke keer wanneer my oog daarop val, verwonder ek my opnuut daaraan dat ’n brief wat in die tagtigs toegeplak is, vandag — in 2020 — steeds van toepassing kan wees.

Want in die brief het my pa ons vertel van die vrede van stilte. Van die mooi wat daar nog in ons gebroke wêreld is en ons plig om aan te hou soek daarvoor. Van jonkwees en oudword en liefhê. Van geloof en bloudruk-planne. Van drome, tweedrag, sleur en die seer van verbreekte beloftes.

Van die gevaar daarvan om nie ons geestelike kragte te spaar vir wérklike beproewings nie. Want dit gáán oor jou pad kom. Hy het ons gewaarsku teen grootdoeneriges en luidrugtiges; teen die gevaar van bitterheid in die hart, ’n moegheid van gees, eensaamheid en vrees.

Hy het ons gemaan om koers te hou in ons loopbane en katvoet in die sakewêreld te loop. Die afgelope jaar het ek my brief verskeie kere herlees. Want in hierdie jaar van onrus en harwar het ek kort-kort nodig gehad om daaraan herinner te word dat 2020 se uitdagings niks nuuts onder die son is nie.

Daar is nog steeds rugstekers en grootmonde. ’n Mens moet nog steeds daarteen waak om nie jou geestelike kragte op onbelangrike dramas te vermors nie. Ek het nodig om daaraan herinner te word dat daar iewers in die tagtigs (die “outyd” soos my kinders dit noem) iemand was wat die moeite gedoen het om ’n brief te skryf waarin hy ook vir my “vir oulaas iets moois vir ’n tiekie wou sê”.

’n Brief met raad in waaraan net ’n domkop hom of haar nie sal steur nie. Iemand wat my aangemoedig het om altyd — uit verlede, hede en toekoms — te bly soek na die mooi; selfs al lyk die wêreld vir jou na ’n gevaarlike plek. Om my plek vol te staan in God se heelal. Om vrede te maak met wie ek ook al aanvaar Hy is.

Om te sorg vir vrede in my gemoed. Maar veral om nooit op te hou soek na die mooi nie, want daarvan is daar steeds — vandag nog — so baie.

Related Articles

Back to top button