Toekoms in inwoners se hande
Daar is nog talle ander wat erkenning verdien en vergewe my, maar ek sonder diegene uit wat ek ken en op ’n meer gereelde basis mee te doen het. Ek salueer ook die vroue wat ons dorp se ingange verfraai het en diegene wat voor die interhoër ons dorp ’n “facelift” gegee het.
Ben Greeff, Modimolle, skryf:
Ek verwysing na Wiets Botes se brief van Vrydag 4 September in Die Pos en wil my waardering uitspreek teenoor diegene wat, ten spyte van al die chaos in die land, nog steeds ’n positiewe verskil gemaak het aan die breër gemeenskap van Modimolle.
Onder hulle tel die Waterberg Sakekamer, AfriForum, GPF sektor-2 en in die besonder Wiets Botes, Gerhardt Breytenbach, Pat Loots, Riaan Holtzhausen, Pieter Booyse en James van Zyl.
Oor die algemeen is ons vinnig om te kritiseer, maar daar word min erkenning gegee aan diegene wat die moed en die passie het om op te staan en betrokke te raak wanneer die uitdagings ons ander moedeloos laat.
Julle het in die voorste loopgrawe vir ons geveg om te keer dat alles in duie stort terwyl die politici koppe gestamp het en die pap op die grond geval het. Daar is nog talle ander wat erkenning verdien en vergewe my, maar ek sonder diegene uit wat ek ken en op ’n meer gereelde basis mee te doen het.
Ek salueer ook die vroue wat ons dorp se ingange verfraai het en diegene wat voor die interhoër ons dorp ’n “facelift” gegee het. Dit is mense wat omgee en nie langer sit en wag vir ’n wonderwerk om te gebeur nie.
Ek was een van vele wat baie opgewonde en positief was ná die uitslae van die vorige munisipale verkiesing net meer as vier jaar gelede en ek het op my beskeie manier ’n bydrae probeer lewer deur voorstelle in te dien rakende aspekte wat ek as belangrik geag het, veral omgewingsbewaringsprobleme.
Ons is almal lankal keelvol vir stinkende riool en rokende asgate wat net nie die nodige aandag kry nie. Wat vir my teleurstellend is, is dat die raad nie gebruik gemaak het van ons insette en bydraes as pogings om die dorp weer op te lig nie.
So dink ek byvoorbeeld aan ’n geïntegreerde ontwikkelingsplanvergadering (IDP) wat in die stadsaal gehou is en waar verskeie kundiges hul dienste rakende water- en elektrisiteitskwessies gratis aangebied het, maar geïgnoreer is.
Hoe lank sal jy geesdriftig bly as die gesag jou bly ignoreer of jou bydrae as minderwaardig beskou? En nou wonder ek: Waarom het ons wykskomitees verkies? Daar was nog nooit weer in wyk 12 ’n vergadering gehou nie en niemand het ooit daaraan gedink om gebeurlikheidsplanne op te stel om krisisse te hanteer nie.
Ek voel iemand moes die gemeenskap bymekaar gebring het om onderling die kwesbares te ondersteun en nood te verlig. Ten tye van watertekorte was daar manne wat met waterkarre vir inwoners water van die plase af aangery het.
Dit was hul eie inisiatief en dis my mening dat dié pogings baie wyer en ’n groter impak kon gehad het as byvoorbeeld die wykskomitee dit kon koördineer. Dit is my oortuiging dat dit ons as gemeenskap se verantwoordelikheid is om na ons bejaardes om te sien, want niemand anders sal dit doen nie.
Wiets verwys na die uitstaande Eskomskuld wat in vier jaar met nagenoeg R350 miljoen toegeneem het. Ek vermoed die rekening van Magalies Water lyk nie veel beter nie. Dit kan net gebeur as daar dienste gelewer word aan mense wat nie daarvoor betaal nie. Waarom het die raad nie daadwerklike stappe geneem om wanbetalers se dienste op te skort nie? Ons was al die jare gewoond daaraan dat jou krag of water afgesny word as jy nie teen die sewende van ’n daaropvolgende maand jou rekening betaal het nie.
Jy kan eenvoudig nie die getroues aanhou belas en die wanbetalers ignoreer ter wille van ’n paar stemme met die volgende verkiesing nie. Dan aanvaar ons dit ook maar gelate dat ons buitensporige hoë tariewe betaal vir water wat ons nie kan drink nie en krag wat onbetroubaar is.
Ek is nou ook al so gekondisioneer en gewoond aan swak dienslewering dat ek ook handeklap as die munisipaliteit 10 van die 1 000 slaggate opvul, of as ’n span uitgestuur word ná vier dae van klagtes om ’n verstopte rioolstelsel oop te maak. Die resultaat is dat my boorgatwater nie meer geskik is vir menslike gebruik nie.
Dit is my mening dat ons dorp nie uit die as sal verrys deur die ingryping van óf die regering óf ’n ander politieke party nie, maar deur die betrokkenheid van elke inwoner van ons dorp. Dit is immers ons dorp en ons kan nie verder toelaat dat politieke gevegte ons dorp verder laat verval nie. Indien die situasie voortduur, sal Eskom nie meer ’n keuse hê as om die krag af te skakel nie.
Die bulle baklei en dit is net die gras wat daaronder ly. Dit is aanstaande jaar weer verkiesing en dit lyk vir my asof die wedywering vir stemme reeds begin het. Die raad probeer ons oortuig dat hulle die afgelope vier jaar nie té sleg gevaar het nie.
Die feite spreek vanself: Ons munisipale skuld het toegeneem en die toestand van ons infrastruktuur het verswak. Watter beloftes sal dié keer opgedis word of watter verwagtinge sal hierdie keer geskep word? Wie gaan hierdie keer die skuld kry vir alles wat verkeerd geloop het?
Ek dink ons moet die ander opsies begin oorweeg waar ons meer seggenskap oor ons eie lot het en waar ons as inwoners ook ’n inspraak het oor die toekoms van ons dorp. Nou wag ek saam met Wiets vir die raad om ons te antwoord. Wat is die waarheid?