Local sportSport

Predikante trap fiets vir ’n goeie doel

Kerkgemeentes kon vanjaar weens die grendeltydperk nie oudergewoonte bymekaar kom om hul jaarlikse kerkbasaars te hou nie, maar aan planne ontbreek dit beslis nie.

Die twee predikante van die Nederduits Gereformeerde Kerk in Mookgophong, ds. Louis Pretorius en André Botha, het nie net kragte saamgespan om fiets te ry vir ’n goeie doel nie, maar ook gesorg vir groot pret.

Die twee het op Saterdag 5 September om die beurt fiets in die dorp gery om geld in te samel vir die gemeente en ook vir die Naboom Tehuis vir Bejaardes. Elkeen het ’n uur lank gery en dan het hulle plekke geruil.

“Ons het om 08:00 begin en was teen 14:00 se kant klaar. Ons was poegaai,” het Pretorius gesê.

Elkeen het ongeveer 25 km per skof gery en saam het hulle 140 km afgelê. Die gemeentelede het hulle geborg deur ’n bedrag vir elke kilometer wat hulle afgelê het, te betaal. Die twee het fluks gery en ’n stewige bedrag ingesamel.

“’n Gedeelte van die geld is vir die ouetehuis, want ons het jaarliks ’n stalletjie by hul basaar gehad en vanjaar kon ons dit weens die inperking nie doen nie. Op hierdie manier kon ons darem ’n bydrae lewer vir hul koffers,” het Pretorius aan Die Pos vertel.

Die res van die geld word in die gemeente se basaarfonds gestort, want ook dié het vanjaar in die slag gebly. Baie van die gemeentelede het hulle vergesel en ’n paar kilometer saamgery. Ander het op die kerkterrein vir hulle gewag en sommer ruim bydraes gegee. Wonderland Kleuterskool in Mookgophong het kolwyntjies ten bate van die skool verkoop.

“Ons het heerlike koffie en tee aan die besoekers uitgedeel en dit was ’n lekker kuierdag op die kerkterrein. Mense is uitgehonger om bymekaar te kom en stories uit te ruil van die Here se goedheid en genade wat hulle die afgelope tyd beleef het,” het Johanette Pretorius, predikantsvrou, gesê.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button