Local newsNews

Spanpoging vir kinders met kanker

Die dapper kankerstryd van ’n agtjarige seuntjie van Vaalwater het twee vriendinne geïnspireer om die lang pad tussen Lephalale en Vaalwater te voet aan te pak om geld in te samel.

Jordan, die seun van Deine en Zadia Lubbe, is in Januarie met ’n skaars soort leukemia (PH+ALL B-sel) gediagnoseer.

Die afgelope paar maande is die gesin se lewe omgekeer deur die uitdagings wat weeklikse chemoterapie-sessies in die stad meebring.

Volgens Stashia Smit, Jordan se tannie, hoop hulle dat sy weeklikse chemoterapie-sessies teen Desember voltooi sal wees. Daarna sal hy vir die volgende drie jaar net instandhoudingschemoterapie kry.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Die vasberade wyse waarop Jordan dié uitdaging aangepak het, het vriendinne Maliza van Coller en Adrien Viljoen laat besluit om ’n blad “Fuelled by Funds” te stig om geld in te samel. Hulle samel nie net vir Jordan geld in nie, maar ook vir die eenjarige Bea Jordaan van Vaalwater wat met retinoblastoma, ’n kanker van die oog, gediagnoseer is.

Van Coller het vir vanjaar se Comrades-marathon ingeskryf, maar die wedloop is weens die Covid-19-pandemie gekanselleer. Sy en Viljoen het besluit om hul uithouvermoë te toets deur die bulte tussen Lephalale en Vaalwater aan te pak.

Van Coller het die ongeveer 90 km gedraf en Viljoen het 30 km gedraf en 150 km ver fiets gery. Hulle het gevra dat mense hulle per kilometer borg. Die twee het die oggend om 06:00 in Lephalale weggespring en net voor 19:00 by die Vaalwater Rivieroord aangekom.

Die geld wat hulle ingesamel het, sal gelykop tussen die twee gesinne gedeel word.

“Dit was nogal rof. Ons families en vriende het ons elke minuut bygestaan en gemotiveerd gehou. Almal het dele saam gehardloop of fietsgery of met ’n bakkie agter ons aangery. Ander onder- steuners het langs die pad vir ons gewag,” het Van Coller gesê.

Deine Lubbe het die laaste paar kilometer saam met hulle gehardloop en hulle hartlik bedank vir die ondersteuning.

Die twee kinders se mediese onkoste, asook die reis- en verblyfkoste in die stad, plaas groot geldelike druk op die gesinne. Gewoonlik is agtjarige seuntjies baie besig. So is dit ook met Jordan. Sy groot liefde is visvang en die visvanguitstappies ná elke chemo-sessie is wat hom gemotiveerd hou.

Hy het ’n sakeplan bedink om vis te vang en te verkoop. Vriende van die ge- sin, Jeran en Adriana Le Roux wat grondverskuiwings doen, het dié droom help bewaarheid deur ’n gronddam vir Jordan by sy huis te stoot. ’n Plastiekvervaardiger wat damvoerings maak en nog een wat dit installeer het ook ingespring om te help.

Nou kan hy enige tyd wanneer hy tuis is, lyne nat maak. Die ander jong kankerpasiënte waarmee Jordan in die hospitaal maats gemaak het, lê hom na aan die hart. Hy het ook geld ingesamel sodat hy tydens een van sy chemo-sessies speelgoed, klei en lekkergoed kon saamneem om die behandeling vir hulle meer draagbaar te maak.

“Zadia en Deine het hul eie onderneming, Beyond Bush Venison en het gelukkig aanpasbare werksure sodat hulle hom vir behandeling kan neem. Jordan het ’n paar moeilike maande agter die blad en sukkel met erge naarheid. Hy eet ook nie goed nie, maar hy laat dit nie in die pad van sy visvang staan nie!” het Smit gesê.

“Hy veg soos ’n kampioen teen hierdie siekte. Hy het ’n sterk wil en ons is so trots op hom.”


Baie dankie aan André Kock en Seun sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button