MunicipalNews

Sakelui en ouetehuis-bestuur woedend oor dae sonder krag

Sakelui van Bela-Bela was die afgelope week opnuut woedend vir dié dorp se munisipaliteit nadat die krag in ’n besige deel van die sakesektor vir bykans drie dae lank af was.

Die Warmbad Rusoord se Tehuis vir Bejaardes is ook in dié deel geleë.

Inwoners van Bela-Bela kla sedert die nasionale inperking in Maart onverpoosd oor die swak dienslewering in die dorp.

’n Kragkabel tussen Potgieterstraat en Corckeryweg in die sakesektor het glo op Saterdag 29 Augustus die gees gegee.

Sakelui moes noodgedwonge hul kragopwekkers uithaal of hul persele se deure vir die dag sluit. Niemand het egter voorsien dat daar nie dadelik aandag aan die probleem geskenk sou word en die kragtoevoer eers teen Maandag laatmiddag herstel sou word nie.

Die bestuur van die Warmbad Rusoord was in dié tyd met hul hande in die hare. Hoewel hulle ’n kragopwekker het, word dit slegs as noodmaatreël gebruik vir pasiënte in die versorgingsafdeling se suurstofsilinders.

“Ons inwoners kan nie in die donker loop nie. As daar net een van ons inwoners val, sal ek ’n siviele eis teen die munisipaliteit instel,” het ’n radelose Anne van Blerk, hoof- uitvoerende beampte by die tehuis, teen Mandagoggend aan Die Pos gesê.

Volgens haar het personeellede talle oproepe na die munisipaliteit gemaak, maar geen reaksie ontvang nie.

Van Blerk het gesê die personeellede het die kombuis se gasstowe ingespan om warm water vir die inwoners te voorsien om mee te was en hulle het enkele noodligte aangebring.

“Ons inwoners het reeds moeilike tye tydens die inperking beleef. Hulle is reeds maande van die buitewêreld afgesluit en hierdie struikelblok het hulle mismoedig gelaat. Almal is uiters geïrriteerd met die situasie.”

David Raborolo, hoof van kommunikasie by die munisipaliteit, het teen druktyd gesê die probleem het ontstaan omdat baie van die kragkabels deel is van verouderde infrastruktuur. Hy het beloof dat die kabel teen Maandagmiddag herstel sou wees.

  • Inwoners van Bela-Bela besoek en skakel Die Pos nou bykans daagliks om te kla oor die Bela-Bela-munisipaliteit se traak-my-nie-agtigheid wat dienslewering betref.

    Topamptenare by die munisipaliteit het aan die koerant erken dat hulle deesdae reaktief, pleks van proaktief, optree wat instandhouding betref. Hoewel daar talle bewerings is dat instandhouding agterweë bly weens ’n gebrek aan geld, het die munisipaliteit dit ontken en gesê “verouderde infrastruktuur” moet die skuld kry.

    Sello Makhubela, munisipale bestuurder, het tydens ’n onlangse gesprek met lede van die Wyk 1-wykskomitee, asook die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF), gesê die munisipaliteit is besig om ’n depot in te rig waar al die nodige onderdele gestoor sal word sodat toerusting beskikbaar is en probleme vinniger opgelos kan word.

    Tinus Ras, DA-raadslid, het intussen aan Die Pos gesê daar is inderdaad planne om die dorp se kragkabels te vervang. Die tender is reeds geadverteer, maar dit is nog nie aan iemand toegeken nie, het hy gesê.

Related Articles

Back to top button