Local newsNews

Inwoners hartseer ná virus bejaarde eis

’n Bekende van Modimolle, Ria Benadé, is op Woensdag 19 Augustus oorlede nadat sy die Covid-19-virus opgedoen het.

Haar familie en vriende het hartseer van haar afskeid geneem.

Sy was sedert 1998 ’n inwoner van die Kokanje-aftreeoord en is in 2018 na die eenheid vir verswaktes verskuif, het haar dogter, Heleen Dreyer, gesê.

Benadé (87) was sowat twintig jaar lank ’n onderwyser by Laerskool Nylstroom.

“My ma was ’n kwaai juffrou, maar die kinders was baie lief vir haar. Sy was ook regverdig: ek mag nooit my gedigte op skool vir haar opgesê het nie, maar moes na die juffrou langsaan loop en dit vir haar gaan opsê sodat my ma nie vir my ’n te hoë punt gee nie,” onthou Dreyer.

Sy was getroud met Sarel Benadé wat in 2014 oorlede is. Hy was bekend vir sy liefde vir boeremusiek en sy konsertina. Haar seun, Gerhard, is vanjaar in Januarie oorlede. Haar kleindogter, Riamien, wat in 2013 aan kanker oorlede is, het haar na aan die hart gelê.

Volgens Dreyer is haar ma veras.

“Dit was haar versoek dat my neef, Innes Benadé, haar diens moet waarneem, maar hy woon in George. Ons sal op ’n later stadium ’n spesiale diens vir haar hou.”

Sy laat haar dogter en skoonseun, Heleen en Nic Dreyer, en hul dogter, Elizma van der Berg, agter asook Gerhard se twee dogters, Magna Branken en Jacomi Schoeman.

Related Articles

Back to top button