MunicipalNews

Wat gaan aan by verkeersafdeling?

Die Pos kan nie bybly met die hoeveelheid klagtes wat weekliks oor die Bela-Bela-verkeersafdeling ontvang word nie.

Die klagtes sluit in lang ure se gewag om gehelp te word, mense wat weggewys word nadat hul etlike ure in die ry gestaan het omdat die stelsel “van lyn af is”, ’n papier- en personeeltekort en mense wat maande wag vir die afhaal van lisensies net om ingelig te word dat daar glo ’n fout met hul vingerafdrukke op die oorspronklike aansoek ingesluip het.

Van die inwoners het aan Die Pos gesê hulle wag al langer as ’n jaar vir hul nuwe lisensies.

’n Inwoner wat verlede week een oggend sedert 05:30 in die ry gestaan het, het aan Die Pos gesê mense in die ry het woedend gereageer toe hulle ure later ingelig word dat die stelsel “van lyn af is”.

Daar was etlike gestremdes wat ook al vroegoggend in die ry gewag het. Inwoners het aan Die Pos gesê dat hulle uit radeloosheid na die Modimolle-verkeersafdeling gery het en, hoewel hulle ook daar in ’n ry gestaan het, is hulle flink gehelp en het goeie wet en orde by dié kantoor geheers.

Simon Zwane, woordvoerder van die Padverkeersbestuursowerheid (RTMC), het by navraag aan Die Pos gesê al duur die Covid-19-inpkeringsmaatreëls voort, behoort daar geen agterstand in Bela-Bela te wees nie.

“Dit is egter waar dat die meeste verkeers- afdelings tans slegs 30% van hul werkerskorps in diens het weens die impak van die pandemie. Ons sal navraag doen oor waar die agterstand is. Verkeersafdelings word deur plaaslike munisipaliteite bestuur.”

David Raborolo, hoof van kommunikasie by die Bela-Bela-munisipaliteit, het in reak- sie gesê die rede waarom mense se lisensies steeds uitstaande is, is glo weens ’n agterstand by die Polokwane-verkeersafdeling waar die lisensies geprosesseer word.

“Ons verkeersafdeling hanteer slegs aansoeke. Mense wat al lank vir hul lisensies wag, kan die lisensiekantoor in kennis daarvan stel of hulle kan hul besonderhede deur die munisipaliteit se Facebook-blad aan ons stuur om gehelp te word,” het Raborolo gesê. “Die tekort aan papier word toegeskryf aan die baie aansoeke van mense buite ons munisipale gebied wat nie in hul eie provinsies geholpe raak nie en dan in Bela-Bela aansoek doen. Ons het weekliks aansoeke van Gauteng, Mpumalanga en Noord-Wes waarvoor ons nie voorsiening gemaak het nie en wat ons moet hanteer.”

Hy het gesê die munisipaliteit sal vanaf September voorkeur aan plaaslike inwoners verleen.

“Minder personeellede is aan diens omdat vlak 2 van die Covid-19-regulasies bepaal dat werknemers met onderliggende gesondheids- probleme en ouer as 60 jaar steeds nie op kantoor is nie. Die regulasies bepaal ook dat slegs ’n sekere aantal mense op ’n keer in die gebou toegelaat word om die verspreiding van die Covid-19-virus te voorkom.  Dit alles dra by tot die lang rye mense wat wag om geholpe te raak.”

Die verkeersafdeling hanteer tans alle normale lisensieaansoeke. Aansoeke soos die omskakeling van buitelandse lisensies na Suid-Afrikaanse lisensies, die afgradering van lisensies (byvoorbeeld ’n kode 14-lisensie na ’n kode 10) en aansoeke om die beskrywing van voertuie te wysig, word nie tans hanteer nie.

Zwane het gesê indien mense wil uitvind hoe ver hul lisensies al geprosesseer is, kan hulle die webtuiste online.natis.gov.za besoek.

Indien mense klagtes oor ’n verkeersafdeling wil aanmeld, kan hulle die RTMC skakel by tel. 086 140 0800 of ’n e-pos stuur na onlinesupport@rtmc.co.za(.)

Related Articles

Back to top button