’n Man wat jong meisies met die hulp van ’n 15-jarige slagoffer gelok en verkrag het, se turf sit nadat DNS-bewyse onteenseglik bewys het dat hy skuldig is.
Hy is verlede week ’n lang vonnis van 40 jaar in Modimolle-streekhof opgelê.
Die hof het gehoor Ephraim Malose Motebele (35) het in Augustus 2017 die meisies, wat hy in sy sinkhuis aangehou het, gom laat snuif en hulle om die beurt verkrag wanneer hulle bedwelmd was. Die gebeure het afgespeel in die woonbuurt Bapeing in Phagameng.
Die slagoffers was tussen nege en 15 jaar oud. Motebele is aangekeer nadat een van die meisies se broer haar gekry het waar sy langs die pad lê.
Sy kon die huis waar sy aangehou is vir hom uitwys en hy het die polisie ontbied. Motebele is in sy huis aangekeer saam met die ander meisies wat hy aangehou het. Hoewel hy tydens sy verhoor volgehou het dat hy onskuldig is, is hy 30 jaar tronkstraf opgelê vir elkeen van die 14 klagtes van verkragting teen hom, asook ’n verdere 10 jaar vir seksuele voorbereiding.
Die vonnisse op die verkragtingsklagtes sal gelyktydig uitgedien word.
Staatsaanklaer Doria Groenewald het tydens die verhoor gesê die slagoffers sal vir die res van hul lewens met die herinneringe van hierdie gebeure saamleef. Sy het gevra dat Motebele uit die samelewing verwyder word. ’n Verslag deur ’n maatskaplike werker het ook die impak van die misdaad op die kinders en hul families uiteengesit.
- ’n Rower wat ook ’n skrikbewind in Phagameng gevoer het, is ook verlede week tot 35 jaar tronkstraf gevonnis.
Thabo Mpho Majadibodu het in die hof in Modimolle verskyn op vyf aanklagtes van roof met verswarende omstandighede.
Hy het die mense in Uitbreiding 10 in Phagameng geterroriseer deur hul vroegoggend of laatmiddag in die bosse voor te lê.
Hy het hulle dan met ’n vuurwapen gedreig en hul besittings en klere gesteel.
Hy is tot 15 jaar op elke aanklag gevonnis en 10 jaar op vier van die klagtes wat samelopend uitgedien sal word. Die staatsaanklaer was William Makwela.