LettersOpinion

Inspirasie vir Nylie-onnies

Die uitdagings vir onderrig en leer was — en is steeds — uiters groot.

Santie Gildenhuys, Modimolle, skryf:

Wat gebeur as ’n sleepwa oorvol gelaai word? Die sleepstang breek. En wat gebeur as jou petroltenk vol gate is?

Jy sit binnekort gestrand langs die pad …

Hierdie is maar twee van die talle kleurryke beelde wat Rhona van Niekerk, kliniese maatskaplike werker en kriminoloog, op Vrydag 21 Augustus in haar onder­steu­nings- ­gesprek met onderwysers van Hoërskool Nylstroom gebruik het. Onderwysers moes vanjaar wêreldwyd wys van watter stoffasie hulle gemaak is.

Die uitdagings vir onderrig en leer was — en is steeds — uiters groot. Juis daarom het die bestuursliggaam van Hoërskool Nylstroom, onder leiding van Hannes Stoffberg (portefeulje: dissipline) en Wiets Botes (voorsitter), dit goed gedink om ’n bemagtigingsdag vir die personeel van Hoërskool Nylstroom te reël.

Van Niekerk het met die intrapslag haar slag as ervare traumaberader getoon deur vergelykings te trek tussen trauma en die emosies en ervarings wat onderwysers vanjaar ervaar het. Sy het onderskeid getref tussen interne en eksterne trauma.

Interne trauma kry sedert kleintyd ’n vastrapplek en vind gaandeweg neerslag in ’n mens se persoonlikheid, terwyl eksterne trauma onaangename ervarings is wat onverwags na ’n mens se kant toe kom en jou balans versteur. Die vraag is hoe ’n mens eksterne trauma, soos deur die Covid-19-situasie veroorsaak is, moet hanteer.

Volgens Van Niekerk is dit belangrik dat ’n mens jou situasie goed moet analiseer en nie moet toelaat dat dit jou vreugde steel nie.

Elkeen is verantwoordelik vir sy of haar eie innerlike gemoedsrus.

Sy het haar uiteenlopende ervarings tydens die inperkingstydperk met die gehoor gedeel. Dit strek vanaf situasies van uiterste wanhoop en ellende tot die mees innoverende planne en wonderlike, warmhartige dade.

Botes het die hoof en personeel van Hoërskool Nylstroom gelukgewens met die kalm en innoverende manier waarop die skool vanjaar se uitdagings hanteer het. Hy het beklemtoon dat skole die barometer bly van ’n gesonde gemeenskap en volgens hom dui die meterlesing daarop dat die Waterberg-omgewing kerngesond is.

Botes en Van Niekerk het die onderwysers bedank vir hul veerkragtigheid en onwrikbare vermoëns om voortdurend nuwe planne te maak. Soos William van Coller, vorige Nylie-hoof, altyd gesê het: Solank ’n mens se planne nooit opraak nie.

Seker die belangrikste boodskap aan elke onderwyser is dat hulle moet toesien dat hul sleepstang nie breek nie en dat selfs die kleinste gaatjie in hul petroltenks vinnig aandag moet kry.

Sonder onderwysers sal ’n gemeenskap vergaan.

Related Articles

Back to top button