’n Wilde jaagtog deur Modimolle het gelei tot die dood van ’n verdagte in ’n plaasmoordsaak in Lephalale.
Loeiende sirenes het op Vrydagoggend 21 Augustus kortstondig die dorp se rustigheid versteur.
Die Modimolle-polisie het inligting ontvang dat ’n verdagte motor die dorp vanaf Mookgophong se kant af binnegekom het. Dié wit Volkswagen Polo is volgens AO James Findlay, woordvoerder, die vorige week tydens ’n huisroof in Seshego by Polokwane gesteel.
ADVERTENSIE/ADVERTISEMENT
Die twee verdagtes het op die vlug geslaan nadat hulle besef het die polisie is warm op hul spoor. Die mans het in die rigting van Bela-Bela gevlug, maar toe in Hans Campherlaan afgedraai en in die smal paadjie langs Bosveldsig se fase 1-3 beland.
Hulle het teen ’n boom gebots en uit die voertuig gespring. Lede van die Modimolle-polisie was onmiddellik by en een van die verdagtes is geskiet.
Hy is op die toneel dood. Die ander verdagte is aangekeer.
“Ons het groot geskrik toe ons skote hoor klap, maar nie geweet waar dit vandaan kom nie,” het ’n inwoner van Bosveldsig aan Die Pos gesê.
Sy was vol lof vir die polisie se blitsige optrede. Findlay het gesê die saak word verder ondersoek.
Die polisie het teen druktyd nog nie die oorledene se naam bekend gemaak nie.
Sakkie Louwrens van Bosveld Misdaadondersoeke (BMO) het aan Die Pos bevestig dat die oorledene verbind word met die moord op Pieter (Vink) Pieterse (57) op 6 Februarie 2017 op die plaas Sumadi naby Afguns buite Lephalale.
Pieterse is vermoedelik deur vyf mans in sy slaap oorval. Die oorledene was uit op borgtog, maar het daarna verdwyn.
Twee van die verdagtes, Phineas Malongoana en Thapelo Motsamai, het reeds in die hof in Lephalale verskyn.
Baie dankie aan Pavecon sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.