Tinus Ras, DA-raadslid, Bela-Bela, skryf:
Dit is jammer dat ’n inwoner wat omgee vir Bela-Bela, soos “Omgekrapte belastingbetaler van Bela-Bela” nie bereid is om sy naam bekend te maak nie (“Raadslede moet skuld vir plakkersprobleem kry”, Die Pos Vrydag 21 Augustus.)
Maar ek sal poog om hom te antwoord. Oor een ding is hy reg, naamlik dat daar altyd ’n natuurlike bevolkingsgroei sal wees.
In die geval van Bela-Bela is dit egter gedeeltelik waar omdat die grootste groei in bevolking toegeskryf kan word aan mense wat van buite ons provinsiale- en landsgrense kom. Dit is ook waar dat daar in die verlede baie oor beskikbare grond gepraat is en ook dat hierdie grond teen belaglik hoë bedrae aan die munisipaliteit beskik gestel is.
Dit is ook so dat die departement van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (Cogsta) hierdie grond moet aankoop en nie die munisipaliteit nie. Die dorpsbeplanning is ongeveer twee jaar gelede deur ’n professionele persoon behartig waarna daar ’n vergadering met die gemeenskap (belastingbetalers) was.
Geen ander vergadering wat die afgelope tien jaar belê is, het soveel belangstelling soos daardie vergadering gelok nie. Die verslag het aangedui dat die dorp oor genoeg grond beskik vir die volgende aantal jare, met die inagneming van die gemiddelde bevolkingsgroei soos wat dit op die vorige aantal jare se statistiek bereken is.
Die DA het tydens die onlangse poging om grond buite die dorp te beset op ’n hofbevel aangedring. Ten spyte daarvan kon die plaaslike polisie nie daarin slaag om die grondbesetters te verwyder nie en geen hulp van enige ander politieke party was ter sprake nie.
Met die hulp van Desirée van der Walt, ons plaaslike DA-parlementslid, kon ons daarin slaag om die spesiale taakmag van die polisie te nader om die grondbesetters te verwyder.
Die week nadat die mense verwyder is, het daar ’n ander politieke party op die wa gespring en probeer veld wen met ander mense se karperde.
Ek sal in die komende week ’n berig op sosiale media versprei wat die werklike situasie van die grondbesetting sal insluit. Wees verseker dat die DA vir elke belastingbetaler en inwoner sal veg.