Johan Mills, voorsitter: Bela-Bela Belastingbetalersvereniging (BBTF), skryf:
Die BBTF het onlangs ’n afspraak met Bela-Bela se burgermeester en munisipale bestuurder gemaak om te praat oor die talle probleme in die dorp.
Drie weke later — en nadat hulle bloot net nie opgedaag het by ’n bevestigde afspraak nie — het ons uiteindelik op Vrydag 21 Augustus vergader.
Die munisipale bestuurder het afgeskop met ’n betoog oor hoe ongewens negatiewe publisiteit vir die dorp is. Dié arrogansie is ongelooflik terwyl ons juis daar is om te praat oor die gemors waarin ons dorp is: die kilometerlange rioolstroom langs die R101-pad en nog talle ander dienslewerings- knelpunte.
Dit terwyl die munisipaliteit ons dorp bankrot bestuur het, amptenare reusesalarisse gekry het vir dienste wat hulle nie gelewer het nie en ons dorp verder agteruitgaan.
Kyk gerus in Die Pos van 14 Augustus se munisipale advertensie na die nuwe poste wat geadverteer word: R177,000 per jaar vir ’n skoonmaker-opsigter, terwyl die topbestuur tot soveel as R1,5 miljoen per jaar verdien. Inwoners voel dit is hul gelukkige dag as hulle ’n amptenaar op sy pos kry.
Ons dorp se bankrotskap word in die volgende syfers uitgewys. Ons skuld Eskom ongeveer R30 miljoen, Magalies Water R8 miljoen en die departement van vervoer ongeveer R10 miljoen (geld wat die munisipaliteit bloot nie oorbetaal het nie en glo vir bedryfskostes aangewend het).
Dan hoor ons dat ongeveer R15 miljoen wat vir kapitaalprojekte geoormerk is, ook vir sogenaamde bedryfskostes aangewend is.
Hierbenewens het ons hooggeregshofsake op appèl verloor, waar ons Dikala Plant Hire ongeveer R84 miljoen plus kostes en rente skuld, Fawcett Security R30 miljoen (die veiligheidsmaatskappy wat bankrot verklaar is en die likwidateur enige dag die geld kan opeis) en dan SuperSpar se brandeis van oor die R100 miljoen wat nog voor die hof dien.
Die algehele skuld beloop nmeer as R177 miljoen. Anders gestel, belastingbetalershuishouding in Bela-Bela sal elk ongeveer R59 000 se skuld moet help inhaal voordat daar geld vir ontwikkeling en instandhouding sal wees.
Verder is die munisipaliteit laks om die bykans R200 miljoen slegteskuld op sy boeke in te vorder. Sekere sakemense skuld tot R20 miljoen aan agterstallige belastinggeld wat ook nie ingevorder word nie. Om die munisipaliteit se bedryfsuitgawes te dek, verhoog hulle jaarliks ons tariewe. So is ons eiendomsbelastings al byvoorbeeld 38% hoër as dié van Sandton. Ons weet ook dat net 21% of nagenoeg 3 000 huishoudings in Bela-Bela ongeveer 80% van alle diensgelde en belastings betaal.
Dit is juis uit hierdie inkomste dat ons munisipaliteit hul bedryfskostes dek. Die Ruimtelike Ontwikkelingsplan wys dat 79% van ons inwoners hulpbehoewend is en dus ondersteun word met gratis dienste en geen belasting hoef te betaal nie. Selfs hiervan kon ons in vier jaar nog nie ’n behoorlike rekord kry nie.
Die BBTF het reeds begin om regsadvies en hulp in te win om orde in ons dorp te skep. Hiervan sal u binnekort meer hoor en ons wil graag op u kundigheid en onder- steuning staatmaak. ’n Hofgeding is onafwendbaar.