BlogsOpinion

Hoofartikel: Laat die winter einde kry

Die pandemie-winter was ’n lang en koue een.

Daar is iets in die lug.

Iets wat soos afwagting en opwinding voel. Dalk ’n goeie skoot verligting ook.

Die pandemie-winter was ’n lang en koue een.

Hierdie week se warmer dae was ’n welkome verligting wat die gemoed gelig het.

Grasperke het ’n groen skynsel — selfs daar waar daar nie boorgate is nie. Vrugtebome begin bot en boslelies se helder oranje loer oral uit skadutuine. Nóg mooier is die bykans daaglikse nuusberigte oor politici en sakelui wat oor hul lang vingers getik word.

Dié berigte was vir ’n lang tyd maar aan die skraps kant. Ons wag hoopvol vir hofsake en oranje oorpakke.

Net sulke goeie nuus is die weerprofete wat sê omstandighede lyk gunstig vir ’n goeie reënseisoen. Suid-Afrika se ekonomie het harde houe gevat, maar landbou het ten spyte hiervan vooruit geboer. StatsSA dui daarop dat landbouproduksie met 27% gegroei het.

Die skole is vandeesweek ook weer in volle swang. Dit is nog net die sportvelde en skoolsale wat verlate staan.

Of dit die draai van die seisoen is of opgewondenheid om ná vyf maande terug by die skool te wees, sal ons seker nooit weet nie, maar vandeesweek het selfs kinders wat gewoonlik sleepvoetend by die skool aankom, opgewek aangestap. Ouers én kinders verwelkom die gevoel van normaliteit.

Hoewel ons nog sukkel om die oorblyfsels van die winter uit ons gemoedere te skud, is dit goed om die nuwe groei te sien wat lente bring.

Dis is dalk nou die tyd om nuut te dink oor ou dinge en maniere van doen.

Kom ons stoot nuwe vars lote uit so in die gees van die nuwe sei- soen — dit is tyd dat die ekonomiese en emosionele winter van Covid-19 einde kry. Son, water en goeie grond laat ’n klein saadkorrel van bykans niks af groei tot ’n groot boom.

Kry die gieters. Laat ons nie ’n goeie lente mors nie.

Related Articles

Back to top button