Local newsNews

Deur dik en dun: Oorleef deur sweet, bloed en drukkersink

Enige sake-eienaar wat al langer as 10 jaar ’n onderneming bedryf, kan ’n mens vertel van goeie en swaar tye.

Die Pos het met Janes Boshoff, eienaar van Banners & Flags in Bela-Bela, gesels oor die uitdagings van sake doen in die platteland.

“In ’n perfekte wêreld is mense vry van skuld. In die werklikheid moet ons elke dag produktief wees om die bedryfskoste van die onderneming te kan verhaal. Selfs gedurende die grendeltydperk het ons elke geleentheid aangegryp om ’n inkomste te verdien.”

Dié onderneming het in 2009 in Geloftestraat as ’n klein sakeonderneming ontstaan.

Boshoff en sy eertydse vennoot, Eduan Henn, het die gaping in die mark gesien en gehaltedrukwerk aan hul kliënte gelewer.

Henn het die onderneming drie jaar gelede verlaat.

“Ons het baie lank slegs een kliënt gehad, maar danksy volgehoue goeie diens en gehaltewerk het ons nuwe kontrakte gekry.”

Die onderneming het oor die jare vier keer verhuis danksy groei en uitbreidings. Die onderneming doen tans sake vanuit ’n perseel in Stoffbergstraat wat as sake-eiendom geregistreer is. “Ons ondervind dat die rustiger omgewing in dié woonbuurt ons personeel se produktiwiteit verhoog,” het Boshoff gesê.

Hy het voorts gesê dat dit vir enige onderneming voordelig is om hul personeel se vaardigheid en kennis uit te bou. Hy het gesê dit is belangrik dat personeellede verskillende take bemeester sodat hulle vir mekaar kan instaan in tye van nood.

“Ek moes weens gesondheidsredes die afgelope paar jaar verskeie kere vir lang tye van die werk af wees, maar die personeel het vir my ingestaan en gesorg dat die werk aangaan en kliënte steeds goeie diens kry. Ek kon op hulle staatmaak.”

Boshoff het gesê hy hou baie van sake doen in die platteland en die feit dat inwoners mekaar ken en mekaar bystaan. Hier ken ons nie net die logo’s van sakeondernemings nie, ons ken mekaar se harte en die name van hul personeel en bestuur. Reputasie is vir ons belangrik,” het hy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button