Local newsNews

Deur dik en dun: Thabazimbi — ‘die berg van yster’

Die ysterdraende erts in die Witfonteinrand en die Boshofberg-omgewing is net meer as ’n eeu gelede ontdek.

Die Thabazimbi-berg, waarteen dié dorp geleë is, se rykdom aan ystererts het dan ook tot die naam van die dorp, wat “Berg van yster” beteken, aanleiding gegee.

Die nuwe ontdekking van ystererts in 1919, wat die aanloop tot die stigting van die Suid-Afrikaanse Yster en Staalkorporasie (Yskor) tot gevolg gehad het, het bygedra tot die welvaart van die omgewing.

Die streek was toe al wyd bekend vir sy ryk dierelewe en menige jagter, waaronder pres. Paul Kruger, het na hartelus in die omgewing gejag.  

Die eerste mynhuise is in 1940 teen die Helshoogte-koppie in Thabazimbi gebou. Foto: Verskaf

  Die myn het werkskepping en vooruitgang vir die dorp beteken. ’n Spoorlyn is in 1931 gebou en leerders het reeds in 1934 begin skoolgaan in die myn se ontspanningsaal.

Vandag spog die dorp met puik skole wat die gemeenskap op alle terreine trots maak.

Hoewel die dorp se ekonomie deur Yskor se korporatiewe I-stores oorheers is met ’n groot afdelingswinkel waar ’n mens van ’n kopspeld, tot ’n nuwe paar kerkskoene, roksmateriaal en huismeubels kon koop, het entrepeneurs tog nuwe sakegeleenthede ontwikkel.

Van die sakeondermeings wat sedert 1940 diens aan die gemeenskap gelewer het, was die prokureur JF Van Graan wie se praktyk vandag nog onder die naam JF van Graan en Van der Wateren Prokureurs sake doen. Die Le Roux-apteek, wat ook sy ontstaan in 1940 gehad het, staan deesdae as Medhof Apteek bekend. Die ander baanbrekers in die gemeenskap was Louis Milner en sy vrou wat in 1934 ’n algemene handelaarwinkel geopen het.

Hul was direkte kompetisie vir I-stores en hul aansoek om ’n handelslisensie is vir buite die dorpsgebied goedgekeur. Hulle het die Vliegpoort Trading Store begin, wat destyds uit ’n winkel, diensstasie en vulstasie bestaan het. Dié sakekern het uitgebrei en is vandag deel van die bekende Junction-winkelkompleks.

Die dorp en streek se natuurerfenis speel steeds ’n ankerrol in die dorp se ekonomie. Die Marakele Nasionale Park en ander eko-toerismebestemmings lok binne- en buitelandse besoekers. Mynbedrywighede speel ’n groot rol in die dorp met verskeie klein myngroepe wat in die Thabazimbi-omgewing bedrywig is en die ontwikkeling van diamantmyne en ander edelmetale is nie uitgesluit nie.

Die grootste andalusietmyn in die Suidelike halfrond is ook op die rand van die stollingskompleks, net buite Thabazimbi, geleë. Thabazimbi se sakesektor het beslis ’n groot knou weg weens die voortslepende mynstakings van die afgelope paar jaar.

Die uitwerking van die Covid-19-pandemie op mynbedrywighede het ook ’n handrem vir die dorp se sakebedrywighede beteken. Tog staan een ding soos ’n paal bo water: Niks sal sommer die hart en gees van hierdie geharde Bosvelders breek nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button