Local newsNews

Die moets en moenies van Vlak 2

Hoewel infeksiegetalle gedaal het moet Suid-Afrikaners nie te gerus raak nie.

Suid-Afrikaners slaak ná vyf maande van streng inperkings om die verspreiding van die Covid-19-virus te beperk, ’n sug van verligting oor ’n verslapping in die maatreëls.

Suid-Afrika het op Dinsdag 18 Augustus na vlak 2 van die inperking geskuif as deel van die regering se risikoaangepaste strategie. Dit het gevolg nadat die daaglikse positiewe gevalle van 12 000 na 5 000 gedaal het. Die ramptoestand is ook met ’n maand verleng tot Dinsdag 15 September.

Hoewel dit wil lyk asof die Wes-Kaap, Oos-Kaap en moontlik KwaZulu-Natal reeds hul piek bereik het, het pres. Cyril Ramaphosa Suid-Afrikaners gewaarsku om nie gerus te raak nie omdat die infeksiekoers weer kan styg.

Hy het weer die dra van maskers, sosiale afstand en gereelde was van hande aangemoedig.

Vlak twee beteken vir Suid-Afrika die volgende:

JA:

  • Suid-Afrikaners kan weer (wettig) drank en sigarette aankoop. Drankwinkels kan drank van Maandae tot Donderdae vanaf 09:00 tot 17:00 verkoop. Restaurante, kroeë en tavernes kan tot 22:00 drank verkoop wat op die perseel gedrink word.
  • Dit is verpligtend om ’n gesigmasker te dra wanneer jy in die openbaar is. Mense sonder maskers kan toegang tot openbare vervoer, geboue en plekke geweier word. Diegene wat strawwe sport beoefen, hoef nie ’n masker te dra nie.
  • Kerkdienste, begrafnisse en troues kan steeds gehou word, solank daar nie meer as 50 mense is nie. Daar moet maskers gedra word en afstand tussen mense moet gehandhaaf word.
  • Vriende mag weer bymekaar kuier solank daar nie meer as 10 mense is nie.
  • Inwoners kan oor provinsiale grense reis sonder permitte.
  • Sportvelde, swembaddens, strande, openbare parke, museums, galerye en biblioteke is weer oop vir besoekers.
  • Verblyf, gasvryheidslokale en toere kan weer sake doen, solank net 50% van die beskikbare spasie gebruik word en mense 1,5 m uit mekaar uit bly.
  • Die deure van flieks, teaters en optredes is oop, maar nie vir meer as 50 mense nie.
  • Bus- en taxidienste mag steeds slegs 70% van hul kapasiteit vir reise van 200 km en langer dra en vol kapasiteit laai vir korter afstande. Almal moet egter maskers dra.
  • Gimnasiums mag onder streng voorwaardes heropen.

NEE:

  • Nagwake word nie toegelaat nie.
  • Die land se grense bly gesluit en internasionale reise is steeds taboe.
  • Sportlui kan weer wedstryde speel, maar geen toeskouers word by byeenkomste toegelaat nie.
  • Mense moet snags tuisbly. Die aandklokreël van 22:00 tot 04:00 geld steeds.
  • Niemand mag uit hul blyplek uitgesit word vir die duur van die ramptoestand nie, tensy ’n hofbevel bekom word nie.
  • Partytjie is vir eers van die baan en nagklubs se ligte bly donker.
  • Inisiasieskole mag nie open vir die duur van die ramptoestand nie.

Related Articles

Back to top button