LettersOpinion

Raadslede moet skuld kry vir plakkery

Die omstandighede rondom die plakkers in Bela-Bela waaroor die afgelope tyd berig is, kan grootliks toegeskryf word aan kortsigtigheid van die munisipale raadslede.

Omgekrapte belastingbetaler, Bela-Bela, skryf:

Die omstandighede rondom die plakkers in Bela-Bela waaroor die afgelope tyd berig is, kan grootliks toegeskryf word aan kortsigtigheid van die munisipale raadslede.

Gedurende die laaste deel van die tagtigerjare is ’n toestroming na die townships ondervind. Toe moes inderhaas grond beskikbaar gestel word vir die plakkers.

So het Uitbreiding 5 ontstaan. Daarna is geleidelik met nuwe uitbreidings begin.

Daardie uitbreidings was nie noodwendig deur verdere toestromings genoodsaak nie, maar moes daargestel word om aan volwassenes persele beskikbaar te stel.

Die volwassenes was die gevolg van natuurlike aanwas. Natuurlike aanwas is ’n aaneenlopende omstandigheid waarvoor deurlopend nuwe persele en die nodige dienste voorsien moet word.

’n Paar jaar gelede is daar by die Warmbad-bootklub ’n vergadering van plaaslike sakemanne belê.

Die agenda was hoofsaaklik gewy aan dorpsuitbreiding. Toe is beduie dat daar nie met dorpsuitbreiding voortgegaan kan word nie omdat daar nie genoeg water is nie. As dit die geval is, dui dit op ’n behoefte aan eweredige waterverspreiding.

Op ’n stadium het Fred van Heerden ’n uitbreiding aan die oostekant van die township beplan.

Ons moet deur die raadslede ingelig word waarom daardie uitbreiding gestuit is, indien wel.

Solank as wat daar voete gesleep word om erwe te voorsien aan gesinne wat in plakkershutte gekluister is, sal daar onwettige grondbesettings en pogings daartoe wees.

Tot nou toe het die munisipale raad nog nie juis laat blyk of hulle werklik oplossings vir die plakkerprobleem het nie.

Dit lyk asof die kwessie oorgelaat word aan ’n politieke party wat nog nie eens verteenwoordiging op die raad het nie.

Related Articles

Back to top button