MunicipalNews

Sakelui bekommerd oor kragtariewe

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het aansoek by die energiereguleerder Nersa gedoen om elektrisiteitstariewe vir tyd-van-verbruik te hef.

Dit beteken dat elektrisiteitstariewe hoër sal wees vir verbruik in piektye as in tye waar die verbruik laer is.

Volgens Eskom is die piektye tipies van Junie tot Augustus met laer elektrisiteitsaanvraag van September tot Mei. Die heffing sal slegs op sakeondernemings van toepassing wees. Dié stap wek groot kommer by sake-eienaars wat reeds gebuk gaan onder uiters moeilike ekonomiese omstandighede.

Dit raak veral diegene in die vervaardigingsektor wat nie hul produksie kan aanpas om in die lae verbruiktye te val nie.

Die Waterberg-sakekamer het ernstige gesprekke met die munisipaliteit hieroor gehad en hul kommer daaroor uitgespreek dat die riglyne vir die tariewe nog nie bekend gemaak is nie. Volgens Gerhard Breytenbach van die sakekamer het die sakekamer reeds in September verlede jaar hul voorstelle aan die munisipaliteit gestuur, maar geen antwoord ontvang nie.

“Ons het weer op Donderdag 23 Julie met die munisipaliteit vergader. Die uiteinde was dat ons binne 14 dae weer ons besware en voorstelle op skrif moes stel, wat ons gedoen het.”

Marlene van Staden, burgemeester, het by navraag gesê die munisipaliteit het geen ander keuse as om die tyd-van-verbruiktariewe te hef nie.

“Die departement van minerale en energiesake het die munisipaliteit reeds in 2008 aangeraai om van tyd-van-verbruiktariewe gebruik te maak, aangesien Eskom dit reeds toepas.”

Sy het gesê die munisipaliteit se Eskom-rekening is as gevolg hiervan R10 miljoen meer per maand vir Junie, Julie en Augustus. Die tyd-van-verbruiktariewe sal nie op huishoudings van toepassing wees nie, het Van Staden gesê.

“Die elektrisiteitsmeters is nie toegerus daarvoor nie. Dit sal slegs van toepassing wees waar afstandsmeting (“remote metering”) gedoen word.

Die munisipaliteit het nog geen terugvoer van Nersa oor hul aansoek ontvang nie en weet dus nie van wanneer af dit toegepas sal word nie.

“Ons het gehoop dat ons voor die einde van ons boekjaar ’n antwoord sou kry,” het sy gesê.

Van Staden het gesê die tariefaanpassing is nodig omdat die eenvormige tarief wat nou gehef word, nie voldoende is om die tyd-van-verbruik wat deur Eskom gehef word, te dek nie.

Dit beteken dat die munisipaliteit nie genoeg geld insamel om die grootmaataankope te kan betaal nie. Die tariewe sal aan die hand van Eskom se rig- lyne oor piektye bepaal word. Volgens die sakekamer is die bekendmaking van die riglyne belangrik.

“Sakelui moet weet hoe die nuwe tariewe hulle sal beïnvloed voordat hulle daarop reageer. Watter tye en seisoene is piektyd?” het Breytenbach gevra.

“As jy weet wat die riglyne is, kan jy onderhandel vir beter tariewe, want dan weet jy hoe dit jou raak. Ons is nie gekant teen die tariewe nie, maar ons wil graag weet hoe dit bepaal sal word.

“Ons is bewus daarvan dat die munisipaliteit baie doen om ’n ommekeer te bewerkstellig, maar is bekommerd dat geselekteerde positiewe terugvoer aan inwoners gegee word en inligting wat die gemeenskap wesenlik raak, verswyg word,” het Breytenbach gesê.

“Die sakekamer is bekommerd omdat dit lyk asof Eskom reeds geruime tyd die munisipaliteit se elektrisiteitslading verminder het. Dit is wat veroorsaak dat die dorp se krag afgaan ná geskeduleerde beurtkrag. Indien dit die geval is, behoort dit aan die gemeenskap bekend gemaak te word.”

Van Staden het gesê dit is nie die geval nie en die lading is steeds dieselfde.

Related Articles

Back to top button