Local newsNews

Toerisme-optog beplan

“Ons beoog om in ’n vreedsame konvooi na die premier, asook na die kantoor van die departement van toerisme, te ry. Ons sal ’n brief met al ons griewe aan hulle oorhandig en ook ’n versoek rig om die toerismebedryf weer oop te stel.”

Die toerisme-sektor word swaar getref deur die huidige inperkingsmaatreëls.

Daar word reeds geruime tyd landwyd protesoptogte gehou om die toerismebedryf weer oop te stel.

Ook in Limpopo, waar toerisme ’n belangrike deel van die ekonomie uitmaak, word ’n vreedsame protesoptog vir Donderdag 20 Augustus beplan.

Volgens Ben Grobler, Bela-Bela-organiseerder, sal deelnemers na Polokwane reis om ’n versoekskrif aan Stan Mathabata, premier van Limpopo, te rig.

“Ons beoog om in ’n vreedsame konvooi na die premier, asook na die kantoor van die departement van toerisme, te ry. Ons sal ’n brief met al ons griewe aan hulle oorhandig en ook ’n versoek rig om die toerismebedryf weer oop te stel.”

Mense uit die hotel-, lodge-, gastehuis-, restaurant-, jagbedryf- en toergidssektor word versoek om aan die optog deel te neem. Die organiseerders het reeds ondersteuning van die Vryheidsfront-Plus, asook TLU SA, ontvang. Die optog is a-polities van aard, het Grobler gesê.

Die optog sal voorlopig op die R101-pad buite Bela-Bela begin. Die konvooi sal dan deur Modimolle, Mookgophong, Mokopane en uiteindelik tot in Polokwane ry waar ander rolspelers by die groep sal aansluit. Normale spoed sal gehandhaaf word sodat verkeer nie ontwrig word nie, het Grobler gesê.

“Meer mense sal hul werk verloor as die industrie verder beperk word onder die drakoniese beleide wat onregverdig ingestel is. Ons versoek dat alle rolspelers in die plaaslike industrie aan die projek sal deelneem.”

Luidens ’n onlangse verslag van die Limpopo toerisme agentskap (LTA) staar die land na raming R850 miljard se verlies aan inkomste uit buitelandse toeriste in die gesig.

Die beperkings op internasionale vlugte het hiertoe bygedra. Limpopo het sedert die begin van die grendelstaat reeds R378 miljoen se inkomste verloor uit besprekings vir akkommodasie wat gekanselleer is. Die toerismesektor in die Capricorn-, Mopani- en die Waterberggebied is die topverloorders, luidens die LTA.

Volgens aanduidings wat gebaseer is op die hoeveelheid mense wat deur die LTA genader is, het meer as 20 000 mense in Limpopo na raming reeds hul werk verloor weens die Covid-19-pandemie. Die regering volstaan egter daarby dat die maatreëls ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te voorkom.

Mmamoloko Kubayi Ngubane, minister van toerisme, het in die staatskoerant van Donderdag 6 Augustus wysigings aangebring wat bepaal dat mense besienswaardighede binne hul eie provinsies mag besoek en dat begeleide toere onder streng maatreëls mag plaasvind.

Die vergunning van oornaggeriewe bepaal dat slegs twee mense per wooneenheid geakkommodeer mag word. Die enigste uitsondering is dat meer gesinslede van dieselfde huishouding toegelaat word om dieselfde plek te gebruik. Die jagbedryf kners steeds op hul tande.

Die regering het jagtogte binne die provinsiale grense goedgekeur. Streng veiligheidsmaatreëls is ingestel vir voorgenome jagters. Die organiseerders van die komende optog het gesê die aanhoudende wysigings is kortsigtig, absurd en nie haalbaar op die langtermyn nie.

Vir navrae oor die optog kan mense vir Grobler bel by tel. 082 688 8829, of vir Henk van de Graaf, TLU Noordstreek-voorsitter, by tel. 076 263 3800.

Related Articles

Back to top button