Local newsNews

Vryheidsfront-Plus sê nuwe tak sal nie munisipale twak duld

Daar is aangedui dat Suid-Afrikaners moeg is vir die regering se wanbesteding van belastinggeld en onvermoë om die skuldiges aan die pen te laat ry.

Die Vryheidsfront-Plus (VF-Plus) het die afgelope naweek ’n tak in Bela-Bela gestig.

Marcelle Maritz, provinsiale leier van die VF-Plus, het op Saterdag 8 Augustus saam met Riaan Smith, VF-Plus-regsadviseur, die stigting van die nuwe tak behartig.

“Ons maak staat op ons lede se vernuf en veggees, want ons sal nie langer geboelie word nie. Ons wil, binne die raamwerk van die demokrasie, hard terugslaan,” het Maritz aan gaste by die Fish Eagle Bay-bootklub buite die dorp gesê.

Daar is tydens die geleentheid aangedui dat Suid-Afrikaners moeg is vir die regering se wanbesteding van belastinggeld en onvermoë om die skuldiges aan die pen te laat ry.

Voorts het lede genoem dat inwoners van Bela-Bela breekpunt bereik het en dat hulle oorweeg om belastinggelde terug te hou om die plaaslike munisipaliteit op dié manier te dwing om dienslewering te verbeter of om ’n fonds te stig om self vir effektiewe dienslewering te betaal. Ander kwessies wat bespreek is, was die skending van menseregte, die misdaadsyfer wat toeneem en geweld teenoor vroue en kinders.

Plaasaanvalle is een euwel wat die VF-Plus wil sien verdwyn, het Maritz gesê. Onwettige grondbesettings buite Bela-Bela, asook in die Modimolle-Mookgophong-omgewing, en swak dienslewering is onder meer by die menseregte kommissie (MRK), asook die Groen Skerpioene gerapporteer, het Maritz gesê.

“Die politieke veld is besig om te verander en baie uitdagings lê vir ons voor. Ons moet iewers begin vinger trek en ophou bang wees. Amptenare moet aan die kaak gestel word wanneer hulle swak bestuurskeuses maak wat gemeenskappe benadeel.”

Sy het voorts gesê die party sal hom beywer vir beter dienslewering, al moet privaat maatskappye se hulp ingewin word om die diens te verrig.

Die plaaslike munisipaliteite, wat in gebreke bly om diens te lewer, sal dan vir die betaling van hierdie eise moet instaan, het sy gesê.

“Limpopo sal die eerste stap neem en ons het bekwame regslui in ons span. Ons sal ook toesien dat niemand in die provinsie se grond summier afgevat word nie, maar die onus rus steeds op elke persoon om self binne die wet op te tree.”

Stolla Stoltz is aangewys as die voornemende VF-Plus-kandidaat vir die komende munisipale verkiesing. Hy is ook verkies as takvoorsitter. Hy sal ondersteun word deur Ben Grobler, ondervoorsitter, en Mary Stoltz, sekretaris.

Related Articles

Back to top button