Local newsNews

Maak slim planne as geldsake druk

“Ek verkoop eerder die goed wat ons min of glad nie gebruik nie. As dit beter gaan, kan ons weer koop, maar nou moet ons net oorleef.”

Die ekonomie knyp en die beursies is dun. Sakeondernemings se deure was lank toe en talle salaristrekkers se inkomste is minder.

Daar word gereeld op sosiale media items soos huisraad en luukses soos swaar houtmeubels, bote, kampwaentjies en motorfietse te koop aangebied.

“Ek verkoop eerder die goed wat ons min of glad nie gebruik nie. As dit beter gaan, kan ons weer koop, maar nou moet ons net oorleef,” het ’n inwoner van Modimolle aan Die Pos gesê. Vir talle is die Desember-vakansie ook van die baan.

Die vlak van sukkel wissel tussen ongemaklik en baie benoud. Daar is talle gesinne wat moet spook om in hul gesinne se basiese behoeftes te voldoen en ander wat slegs die gordel effe stywer hoef te trek. Om dinge verder te bemoeilik, dui ’n verslag wat in Julie deur die Mededingings- kommissie uitgereik is, daarop dat die prys van kruideniersware drasties tydens die grendeltydperk gestyg het. Die blaam rus glo op die verswakkende rand teenoor die dollar en paniekaankope voor die grendeltydperk.

Studies deur die organisasie Pietermaritzburg Justice and Dignity toon dat die prys van stapelkosse soos rys, aartappels en mieliemeel drasties gestyg het. Hulle het ook bevind huishoudings bestee sowat 30% meer aan kruideniersware weens die stygende pryse en omdat gesinne heeldag tuis is en hulle weens grendelregulasies nie altyd hul inkope kan doen waar produkte goedkoper is nie. Kenners is dit eens dat die ekonomiese druk nog maande kan duur.

Die raad wat verskeie banke aan Suid-Afrikaners gee is om op ’n doelwit te besluit en ’n realistiese begroting op te stel.

Prioritiseer uitgawes en onderskei tussen wat jy wil hê en wat jy moet hê. Hulle raad sluit in dat mense moet tred hou van hul uitgawes, want dit is dikwels die klein jakkalsies wat die wingerd verniel. Beplan vir groot aankope; moenie op die ingewing van die oomblik bestee nie.

Besluit hoeveel geld bestee kan word op huisuitgawes, kruideniersware, klere, selfone en data, brandstof en ontspanning.

Hier is ’n paar van die slim planne wat inwoners help om te bespaar.

  • Kyk weer na spyskaarte. Party etes is duur sonder dat dit soveel lekkerder is. Stel ’n weeklikse spyskaart op en doen aankope daarvolgens. Vars groente en vrugte wat weggegooi moet word omdat dit sleg geword het, is verkwiste geld.
  • Hou ’n oog op uitgawes soos brandstof-, elektrisiteit- en waterverbruik. Beperk dit as dit te veel kos.
  • Skakel jou versekeraar en beding ’n beter premie. Kyk na goedkoper selfoonpakkette en data-opsies.
  • Hou by jou begroting deur die koevertjiestelstel te gebruik. Plaas kontant in gemerkte koeverte vir byvoorbeeld klere, kruideniersware en ander aankope. Sodoende weet jy presies hoeveel jy op wat bestee het. Indien jy min met kontant werk, trek ’n bankstaat aan die einde van die maand en bekyk jou uitgawes om vas te stel waar jy onnodig bestee. Daar is ook gratis selfoontoepassings beskikbaar wat kan help om binne ’n begroting te bly.
  • Doen aankope met ’n vars uitkyk. Waag dit om af te wyk van dit wat jy altyd koop en kyk of daar goedkoper of slimmer kopies beskikbaar is. Hou in gedagte dat goedkoop soms duur koop is. Hou by jou inkopielys en moenie onnodige aankope maak nie. Dit help om etes vooruit te beplan.
  • Beperk uitstappies, uiteet en duur lekkernye. Drink water eerder as koeldrank — dit is goedkoper en gesonder.
  • Pak kos in werk toe eerder as om kos te koop. Was self jou motor. Grootmaataankope van skoonmaakmiddels werk goedkoper uit as die kleiner verpakte produkte by supermarkte. Een inwoner sê hulle het noodgedwonge hul buitegeboue in ’n woonstel omskep. Die paar duisend rand ekstra per maand bring welkome verligting. Nog ’n inwoner sê hulle het hul huur opsê en in ’n kleiner plekkie ingetrek. Ouer mense trek ook gereeld by hul kinders in om geld vir albei huishoudings te bespaar. Ook duur voertuie word vervang met meer bekostigbare voertuie.

Kinders se buitemuurse aktiwiteite word verminder en wanneer daar ver gery word, pak mense deesdae eerder padkos as om langs die pad kos te koop. Praat vroegtydig indien jy nie jou maandelikse paaiemente kan betaal nie.

Daar is verskeie maniere om skuld te konsolideer en termyne te verleng sodat kleiner paaiemente verligting in hierdie tyd kan bring.

Moenie wag totdat dit te laat is nie. Sodra ’n mens agterstallig raak met finansieringskontrakte, word dit al hoe moeiliker vir finansierders om alternatiewe planne te maak en kliënte by te staan. Wees versigtig vir korttermyn skuld. Dit is gewoonlik baie duurder, hoewel dit redelik maklik bekombaar is.

Enige skuld wat deur ’n bate gedek word, is heelwat goedkoper soos byvoorbeeld huislenings. Bespreek dit met jou finansiële instelling. Wees aanpasbaar en vindingryk om te oorleef.

Related Articles

Back to top button