Liezel Harper, Bela-Bela, skryf:
Grendelstaat 2020. Jy word elke oggend wakker en wonder wat hierdie dag gaan oplewer.
Vir die meeste mense is hierdie ’n vreemde ervaring. Die spanning loop hoog met al die werkloosheid, korrupsie en voedseltekorte. Swaarkry lê voor die meeste se deur. Maandae voel soos Sondae. Met koffie in die hand soek ’n mens gou ’n positiewe boodskap, bel ’n vriend of familielid en wens hulle sterkte toe vir die dag.
Almal het ’n dringende saak waarvoor hul gou moet dorp toe gaan, maar die werklikheid is dat baie sakeondernemings se deure nog toe is. Betalings word gemaak of jy vra vir uitstel totdat jou inkomste weer normaal is. Die man wat voor die grendeltydperk net sy uitgawes kon dek, is nou sonder inkomste, maar wat van die man op straat wat ’n hand-na-die-mond-bestaan gevoer het? ’n Mens sien die gebrokenheid oral om jou en agter die maskers.
Jy wil help, maar wat as jy niks het om mee te help nie? Almal wag op die somer asof dit genesing sal bring vir die seer. Daar is mense wat soveel deernis in hierdie moeilike tye getoon het en ander van ondergang gered het. Wat jy saai sal jy maai geld steeds in die samelewing.
Maar daar is ook dié wat hierdie grendeltyd gebruik het om mense uit te buit. Mense wat hul medemens uit gulsigheid verkul het. Mense wat die geleentheid sien om te skep. Ons is bewus van verbode transaksies wat deel van ’n normale huishouding geword het om gewoontes te onderhou. Dit druis teen ons norme in.
Ons is ’n nasie wat goed onder druk kan funksioneer, maar hierdie onsekerheid is anders en die negatiewe publisiteit wat politieke leierskap betref, stem ons onrustig. Ons moenie tou opgooi nie. Hou aan leef en as jy moeg word, vat ’n kort pouse en probeer weer. Elke dag het sy uitdagings, maar die deure sal weer oopgaan vir ons almal. Hou moed.