MunicipalNews

Media en publiek mag nie hoor wat raadslede besluit

“Dit is ongehoord dat die publiek of die media nie sonder rede hierdie vergaderings mag bywoon nie. Die raadslede het die vergadering virtueel bygewoon. Dit was egter duidelik dat sommige raadslede nie alleen was tydens die vergadering nie.”

Die Pos se verslaggewer is op Donderdag 30 Julie uit ’n virtuele munisipale vergadering van die Bela-Bela-munispaliteit geboender.

Dié vergaderings is normaalweg oop vir die publiek, maar word sedert Maart weens die Covid-19-pandemie virtueel aangebied.

Die Pos het die skakel na die vergadering by ’n raadslid bekom, ingeskakel en vir ’n tyd na die aanlynvergadering geluister.

Die oomblik toe ander raadslede egter nie Die Pos as ’n addisionele toeskouer erken het nie, het die skerm skielik donker geword.

Die munisipaliteit het inwoners op Vrydag 24 Julie in ’n kennisgewing in Die Pos-koerant ingelig dat die vergadering sou plaasvind.

Dit is vir Die Pos duidelik dat beperkte toegang tot regeringsdepartemente, munisipale kantore en die afwesigheid van sleutelamptenare tydens die grendeltydperk tot gevolg het dat munisipaliteite interne besluite neem sonder om met die gemeenskap en belastingbetalers in gesprek te tree. Min of geen inligting word bekend gemaak en besluite word dan as kennisgewings deurgegee.

Plaaslike inwoners maak staat op Die Pos se mediadekking oor munisipale bedrywighede en gebruik dikwels die koerant om hul griewe oor swak of geen dienslewering te lig.

Die munisipale begroting is volgens kennisgewing eers in Julie goedgekeur sonder dat daar formele openbare kennisgewing plaasgevind het en die begroting is steeds nie op die munisipaliteit se webwerf beskikbaar nie. Teen druktyd was die webtuiste van lyn af. Inwoners is dus steeds in die donker oor die tariewe vir die nuwe boekjaar.

Die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) is eers vandeesweek beskikbaar gestel — ook sonder dat die publiek aan die gesprekvoering kon deelneem.

Die munisipale struktuursbeleid stel dit duidelik dat die publiek en media van geen openbare vergadering verban kan word nie. Die uitsondering is wanneer die raad ’n sensitiewe besprekingspunt hanteer en sulke gevalle kan die publiek en media versoek word om die vergadering te verlaat en weer terug te keer wanneer die saak afgehandel is.

By nasionale en provinsiale virtuele vergaderings word ’n mediaverklaring deur die betrokke owerheid voor die aanvang van die vergadering uitgestuur en word die publiek en die media genooi om as aanlyntoeskouers en deelnemers te registreer.

Johan Mills, voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF), het in reaksie gesê hoewel die munisipale struktuursbeleid bepaal dat ’n uitvoerende munisipale komitee of ’n erkende burgemeesterskomitee wel die publiek of media van ’n vergadering kan verban of weerhou, het die Bela-Bela-munisipaliteit nie dié magtiging nie omdat hul nie as ’n kategorie B-munisipaliteit erken word nie.

Die munisipaliteit het in sy oorspronklike vergaderingkennisgewing, wat in Die Pos gepubliseer is, te kenne gegee dat die betrokke beleidstuk oor openbare toegang gewysig is.
Geen rekord bestaan egter in die staatskoerant of in die bestaande wet dat die publiek tydens die Covid-19-pandemie eers toestemming moet bekom om tot ’n normale virtuele raadsvergadering toegang te verkry nie. Die kennisgewing het ook geen inligting bevat dat belastingbetalers nie toegang tot die vergadering het nie.

Tinus Ras, DA-raadslid, het in reaksie gesê hy het self op die betrokke dag gesukkel om tydens die vergadering aanlyn in te teken.

“Dit is ongehoord dat die publiek of die media nie sonder rede hierdie vergaderings mag bywoon nie. Die raadslede het die vergadering virtueel bygewoon. Dit was egter duidelik dat sommige raadslede nie alleen was tydens die vergadering nie,” het hy gesê.

“Die DA het begrip vir sensitiewe besprekings tydens vergaderings waar die publiek gevra word om die vertrek te verlaat, maar as die munisipaliteit se kommunikasie-afdeling nie volledige inligting ná die vergaderings bekendmaak nie, is dit my verantwoordelikheid om die publiek self in te lig oor wat aangaan.”

Hy het voorts gesê dat virtuele vergaderings beter bestuur moet word sodat die teenwoordige lede wel ’n kworum is om wettige besluite te neem.

Ras en Mills het onderneem om die saak verder te ondersoek.

Die Pos het Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, om kommentaar genader, maar hy het teen druktyd nie gereageer nie.

Related Articles

Back to top button