Local newsNews

Planne vir heining vorder fluks

Volgens alle aanduidings is daar steeds plakkers op ’n gedeelte van die munisipaliteit se grond, hoewel die polisie slegs opgetree het teen mense wat grond op die gedeelte naaste aan Tuin Tuiste-aftreeoord beset het.

Die voorbereidingswerk vir die oprigting van ’n heining om ’n stuk munisipale grond op die Alma-pad buite Bela-Bela vorder fluks.

Inwoners van die omgewing het eie inisiatief en geld ingespan om dié heining op te rig om onwettige grondbesetters te verhinder om daar te plak.

Onwettige grondbesetters het tydens die grendeltydperk erwe op ’n stuk munisipale grond (Gedeelte 25) aan hulself toegeëien. Hierdie besetting is skaars 50 m van die Tuin Tuiste-aftreeoord se hoofingang.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Tinus Ras, DA-raadslid, het vroeër druk op die Bela-Bela-munisipaliteit geplaas om vir ’n uitsettingsbevel aansoek te doen om die grondbestters te verwyder. Die provinsiale polisie se publieke orde-eenheid (Pops) het hulle verjaag, maar daar is steeds plakkers op ’n ander deel van dié munisipale grond.

Grondbestters het hulself reeds in 2018 op die stuk privaat grond (Erf 1492) tuisgemaak. Die grondeienaar, Steve Bosch, sakeman van Polokwane, het tot op hede nie teen hulle opgetree nie.
Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het vroeër gesê al wil die munisipaliteit optree, rus die onus steeds op Bosch omdat die plakkers op sý grond is.

Die DA, asook die Vryheidsfront-Plus, verskil egter van hierdie sienswyse en voer aan wetgewing bepaal dat elke ontwikkeling deur die munisipaliteit goedgekeur moet word — selfs in die geval van ’n informele nedersettingstigting.

Volgens alle aanduidings is daar steeds plakkers op ’n gedeelte van die munisipaliteit se grond, hoewel die polisie slegs opgetree het teen mense wat grond op die gedeelte naaste aan Tuin Tuiste-aftreeoord beset het.

Bewerings dat ’n ANC-raadslid by die onwettige besettings betrokke is, word volgens Ras steeds ondersoek. Die munisipaliteit versuim egter om kommentaar op dié bewerings te lewer.

Teen druktyd vandeesweek het inwoners angstig gewag op die skriftelike toestemming van die munisipaliteit om voort te gaan met die oprigting van die heining.

Inwoners van die Renaissance-aftreeoord en aanliggende wonings het intussen ook navraag gedoen oor die moontlikheid om ook dié deel (wat tot teenaan die dorpsreservoirs strek) op eie koste, te omhein. Ras het aan Die Pos gesê hy sal eersdaags met hierdie inwoners in gesprek tree. Planne in dié verband moet nog gefinaliseer word.

  • Die munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) is uiteindelik op Vrydag 31 Julie op hul webtuiste beskikbaar gestel.Die munisipaliteit het in die GOP agt onwettige grondgrype uitgelig wat die afgelope tyd in die Bela-Bela-township, Spa Park, Tsakane en Rapotokwane plaasgevind het.Daar word aangedui dat altesame 3 000 onwettige strukture die afgelope jaar in die Bela-Bela munisipale gebied opgerig is en dat dié syfer daagliks groei.

    Luidens die GOP-plan word daar oorweeg om munisipale grond op Gedeelte 25 vir die ontwikkeling van ’n township aan te wend. Daar word egter nie aangedui watter gedeelte presies ter sprake is nie.

    Die GOP-plan lui voorts dat die departement van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (Coghsta) Gedeelte 25 by die behuisingsdepartement (HDA) gekoop en aan die munisipaliteit oorgedra het.

    Die HDA is reeds in die proses om ’n gedeelte in Spa Park (Erf 1491) vir behuisingsdoeleindes te ontwikkel Die Pos het Mosito vir meer besonderhede genader, maar hy het teen druktyd geen kommentaar gelewer nie.


    Baie dankie aan André Kock en Seun sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button