Local newsNews

VROUE in sake: Sy laat droomtroues gebeur

“Ek dink in hierdie bedryf is dit voordelig dat ek ’n vrou is. Vroue het ’n fyner aanvoeling en kan mense ‘lees’.”

Die stofpaadjie kronkel deur Bosveldbome op die Springbokvlakte tot waar ’n groen lushof met houtdekke oor water opdoem: die Tsekama-onthaalplek. ’n Liefling van bruide regoor die land.

Dié gewilde keuse vir paartjies wat die knoop wil deurhaak is maande vooruit bespreek.

Tsekama is onbepland in 2003 gebore, vertel eienaar Marinda Turvey.

 

Marinda Turvey (regs) van Tsekama buite Modimolle, saam met een van haar staatmakers, Ilze Marais.

 

“Ons het vir ons ’n naweekplekkie met ’n lapa en twee chalets op die plaas waar my man, Willie, boer opgerig. Vriende van ons wou daar trou en daarna het ons nog navrae ontvang. Ons het later besluit om die lapa te vergroot en nog kamers aan te bou.”

Dis Turvey se behendige hand en kunstenaarsaanvoeling wat die sprankel byvoeg. Hiervoor is sy goed gekwalifiseer met ’n graad in kuns- en ontwerp en hande wat nooit stil is nie. Dit is vir haar tweede natuur om dinge mooi te maak.

Die uitdagings wat die Covid-19-pandemie gebring het, het ook hierdie bedryf hard getref. Die laaste troue kon in Maart op die nippertjie deurgehaak word, maar 36 ander troues moes uitgestel word na aanstaande jaar.

“Ek het die bruide bitter jammer gekry,” het Turvey gesê.

Ook jagters wat verblyf bespreek het, moes kanselleer nadat regulasies verander het.

“Dit is bitter moeilike tye en ons moes moeilike besluite maak. Die basiese onkoste om Tsekama te onderhou, is sowat R100 000 per maand. Dit sluit die elektrisiteitsrekening, lone en versekering in. Die werkloosheidsversekering het vir slegs vier van ons 14 personeellede uitbetaal,” het Turvey gesê. “Ons sien uit daarna om so gou moontlik weer aan die gang te kom wanneer die regulasies dit toelaat.”

Die troubedryf is nie ’n maklike een nie en Turvey dra vele hoede: sakevrou, sjef, beplanner, blommerangskikker, asook berader vir gespanne bruide en hul moeders.

“Ons moet op ons voete dink, want dinge verloop nie altyd soos wat mense beplan nie,” lag sy en vertel van natgereënde bruide wie se hare inderhaas oorgedoen word en trourokslepe wat blitsig gewas word terwyl die gaste vir die reën vlug. Turvey sê haar werknemers is vir haar baie belangrik. “Hulle is almal al lank by my en verstaan wat gedoen moet word.”

Sukses in dié soort onderneming gaan saam met fyn en deeglike beplanning, glo sy.

“Ons ondersteun plaaslike ondernemings, maar kry sekere van ons benodigdhede in die stad. Ons gaan doen op Donderdae aankope, op Vrydae doen ons die blomme en dekor en Saterdae word die kos gemaak sodat dit vars voorgesit kan word. Ons kan nie bekostig om iets in die stad te vergeet wat nie plaaslik beskikbaar is nie.”

’n Goeie verhouding met betroubare verskaffers is baie belangrik.

Om ’n bruid se droom in realiteit te omskep, is ’n talent.

“Ek dink in hierdie bedryf is dit voordelig dat ek ’n vrou is. Vroue het ’n fyner aanvoeling en kan mense ‘lees’. Ek wil hê die bruidspare moet tuis voel en as hulle weggaan, soos familie wees,” het sy gesê.

Turvey se raad aan sakelui is om nie haastig te wees om ’n bestuurder aan te stel nie. “Doen die werk self. Ander mense het nie dieselfde passie vir jou projek nie.”


WATTER VOORDEEL HET VROUE BO MANS IN DIE SAKEWÊRELD?

Die sake­wêreld is nie al­dag ’n mak­li­ke plek om te navi­geer nie en sake­lui moet hul staal wys om te oor­leef. Die Pos het by ’n paar sake­vroue in Modi­mol­le aan­ge­klop.

Su­net Goncalves van Pavecon:
“’n Vrou in die kan­toor is van on­skat­ba­re waar­de. Vroue kan kliën­te met meer em­pa­tie help as die mees­te mans. Ons laat ’n kliënt voel dat hy be­langrik is van die oom­blik wat hy in­stap totdat hy te­vre­de met die diens weer weg­stap.”

 

Es­tie van der Walt van Finest Wear:
“Vroue bied ’n an­der per­spek­tief en ma­nier om met men­se te werk en te be­stuur omdat hulle ge­woon­lik meer ge­duld en em­pa­tie het en meer ge­meen­skap­lik is.”

 

Cecile Schoe­man van Swift Pro­per­ties:
“Ek het ’n voordeel in my be­roep om­dat ek weet wat ’n vrou van ’n huis ver­wag wan­neer sy een wil koop.”

 

Chantell de Villiers van De Villiers Blom­me en Jaz-Che-salon by De Village Boutique:
“Vroue se ver­moë om meer as een taak te­ger­ly­ker­tyd aan te pak gee hul­le ’n voor­deel. Hul­le is ook vas­be­ra­de en het deur­set­tings­ver­moë.”

Related Articles

Back to top button