Local sportSport

Kokanje-inwoners neem virtueel deel

Drie atlete van die Kokanje-aftreeoord in Modimolle het aan ’n wêreldwye virtuele atletiekbyeenkoms deelgeneem.

Die inwoners het self hul worpe-sirkel vir skyfwerp, gewigstoot, gewiggooi, hamergooi en Griekse diskus gevee en gehark. Dié byeenkoms van Central Gauteng Athletics (CGA) is op Saterdag 1 Augustus vir die eerste keer by Kokanje aangebied. Atlete van 25 lande regoor die wêreld het deelgeneem.

Annette van Dyk het deelgeneem in die kategorie vir vroue van 65 tot 69 jaar, Ria Ludick in die kategorie vir vroue 70 tot 74 jaar en Babsie Grobler (Crafford) in die kategorie vir vroue 75 tot 79 jaar. Die drie meestersatlete was, net soos by ’n gewone byeenkoms, geklee in hul Gauteng-Noord-atletiekdrag.

Elkeen van die atlete het ses keer gewig gestoot en ses keer geleentheid gekry om die diskusskyf te gooi. Dit is op video vasgelê en die pogings is gemeet en afstande neergeskryf. Die uitslae en video’s is per Whatsapp-boodskap na die CGA in Germiston gestuur. Die wenners sal op Woensdag 9 Augustus bekend gemaak word.

Wessel van Heerden, uitvoerende bestuurder van die oord, het die rooi lint geknip om die worpe-sirkel amptelik in gebruik te neem. Jean du Plessis, raadslid vir sport, was ook een van die eregaste. Hester Venter, Frans van Dyk, Johann du Plessis, Tiaan Crafford en Rita Noeth was die vyf beamptes aan diens.

Die drie atlete, wat jaarliks aan die meesterskampioenskap deelneem en baie goed presteer, oefen al sedert Januarie twee tot drie keer per week. Hoewel alle atletiekbyeenkomste weens die Covid-19-pandemie afgestel is, hoop hulle om in Oktober aan die Vrystaatse provinsiale kampioenskap in Bloemfontein deel te neem.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button