MunicipalNews

Siviele stappe dreig oor Bela-Bela-grondbesetting

Talle sinkhuise het tydens die grendeltydperk soos paddastoele al langs die teerpad opgeskiet en nabygeleë inwoners nou genoop om die hulp van gemeenskapsleiers, die polisie en howe in te roep.

Niemand weet skynbaar wie die ware eienaar is van die stuk grond reg teenaan die Alma-teerpad buite Bela-Bela — waaroor ’n grondbesettingsherrie tydens die grendeltydperk ontstaan het nie.

Verskeie vingers wys na die Bela-Bela-munisipaliteit, maar dié hou voet by stuk dat hulle wel grond in die omgewing van die onwettige nedersetting besit, maar nie dié spesifieke stuk grond waarop talle sinkhuisies nou pryk nie. Die munisipaliteit kon by navraag ook geen dokumentasie of kaart aan Die Pos verskaf oor wie dan die wettige eienaar van dié stuk grond is nie.

 

As dié stuk grond (in rooi omkring) reg buite Bela-Bela nie aan die munisipaliteit of die sakeman Steve Bosch behoort nie, wie is dan die wettige eienaar van die grond waarop ’n onwettige plakkerskamp ontstaan het? Die Bela-Bela-munispaliteit kon nie dié vraag beantwoord nie. Foto en grafiek: Herman Steyn en Lesley Barnard

 

Talle sinkhuise het tydens die grendeltydperk soos paddastoele al langs die teerpad opgeskiet en nabygeleë inwoners nou genoop om die hulp van gemeenskapsleiers, die polisie en howe in te roep om dit te stuit, aangesien misdaad in die omgewing toeneem, bome gestroop word, vullis onwettig gestort word en die Koppewaai-nedersetting by die dag uitbrei.

Die grondbesetters het verlede week stoom verloor nadat die provinsiale polisie se openbare orde-eenheid (Pops) hulle op Dinsdag 21 Julie van die munisipale grond wat nie in dispuut is nie, verwyder het.

Daar is egter steeds onwettige besettings op privaat grond (Erf 1492) wat aan die Polokwane-sakeman Steve Bosch behoort, asook op die betrokke stuk grond “sonder eienaar”. Bosch staan volgens die munisipaliteit en polisie oënskynlik nie die onwettige plakkery op sy grond teë nie.

Die Bela-Bela-munisipaliteit het einde Junie ’n hofinterdik bekom om plakkers van die munisipale grond (waarvan hulle eienaarskap erken) te verwyder.

Inwoners in die omgewing het by die munisipaliteit toestemming gekry om ’n heining op te rig by die gedeelte naaste aan die Tuin Tuiste-aftreeoord en Laerskool Warmbad se sportgronde. Inwoners betaal self vir die oprigting van die heining waarmee daar reeds begin is.

Marcelle Maritz, provinsiale leier van die Vryheidsfront-Plus (VF-Plus), en Riaan Smith, VF-Plus-regsadviseur, het die omgewing op Woensdag 22 Julie besoek en met van die betrokke inwoners vergader. Stolla en Mary Stoltz, inwoners wat aangedui het dat hulle hul tydens die volgende munisipale verkiesing as VF-Plus-kandidate beskikbaar wil stel, het hulle vergesel.

Maritz en Smith het onderneem om die onwettige plakkerskwessie op provinsiale vlak verder te voer. Hulle beoog ook om die saak met die LUR van menslike nedersettings, die Menseregtekommissie en die Groen Skerpioene op te neem.

Hulle het ook beloof om die uitwerking van die onwettige besetting op die eiendomswaarde van belastingbetalers se nabygeleë wonings te ondersoek.

Maritz het gesê Bosch en die munisipaliteit kan aanspreeklik gehou word vir die onwettige nedersetting, aangesien daar vooraf op munisipale vlak aan enige ontwikkeling goedkeuring verleen moet word.

“Die munisipaliteit het in gebreke gebly om op te tree op die dag toe die eerste onwettige sinkhuis in die gebied opgerig is en iemand moet daarvoor verantwoordelikheid neem,” het sy gesê.

“Koppewaai is ’n plofbare situasie. Dit gaan hier soos met enige ander grondbesetting: Dit is eers net een gedeelte wat beset word en dan word dit groter. Dit is net ’n kwessie van tyd voordat die besetters die hele omgewing wil beset,” het Maritz gesê. “Die provinsiale regering is verantwoordbaar, want hulle het versuim om destyds op te tree.”

Smith het gesê hulle het ’n bekwame regspan wat aandag aan die situasie gee.

“Dit is duidelik dat geen impakstudie, kennisgewing van die ontwikkeling of ’n openbare deelnameproses ooit plaasgevind het nie. ’n Siviele aksie word oorweeg omdat nabygeleë inwoners finansiële skade lei en hul veiligheid in gedrang is weens die onwettige uitbreiding,” het Smith gesê.

  • Die DA het verlede week aan Die Pos gesê ’n raadslid is glo by die onwettige besetting betrokke en dié bewerings sou glo ondersoek word, maar teen druktyd kon die munisipaliteit geen terugvoer hieroor verskaf nie.

Related Articles

Back to top button