Die Pep Cell-selfoonwinkel in die Shoprite-sentrum in Bela-Bela is op Dinsdag 21 Julie vir die tweede keer binne enkele maande helder oordag beroof.
Dieselfde Pep Cell-winkel het in Januarie vanjaar ook onder rowers deurgeloop wat met nuwe selfone laat spaander het.
Volgens sers. Frans Maponya, polisiewoordvoerder, het die jongste rooftog teen ongeveer 12:45 plaasgevind.
“Vier verdagtes het by die winkel opgedaag kort nadat die winkel nuwe voorraad ontvang het. Twee van die rowers was gewapen.”
Die personeellede is na die agterkant van die winkel geneem waarna die rowers op die kluis- en winkelsleutels aangedring het terwyl hulle die personeellede aangehou het. Die rowers het ’n hele aantal selfone en skootrekenaars uit die kluis, asook kontant uit die kasregister, gebuit.
Die rowers het die winkel gesluit voordat hulle op die vlug geslaan het, het Maponya gesê. Dit is nog onduidelik hoe hulle gevlug het.
Die polisie is ontbied nadat ’n personeellid die winkel se alarm geaktiveer het.
- In ’n ander voorval is vermeende sigaretsmokkelaars in hegtenis geneem.Volgens Maponya is twee buitelanders, ’n man (38) en vrou (27), op Dinsdag 21 Julie in Ludorfstraat met onwettige sigaretprodukte in hul besit betrap.Maponya het gesê die man is met 33 kartonbokse onwettige sigarette in sy motor betrap en ná verdere ondersoek is die vrou in die paartjie se woning in hegtenis geneem nadat nog 32 kartonbokse daar gevind is.
Die vrou het ’n skulderkenningsboete van R5 000 betaal en is vrygelaat. Die man sal na verwagting in die Bela-Bela-landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met die besit en verkoop van onwettige produkte, asook oortredings van die huidige Covid-19-regulasies.
- In ’n ander voorval is ’n verkragter op Maandag 20 Julie in die Modimolle-streekhof gevonnis.Die saak spruit uit ’n voorval in Julie 2018 in die Rust de Winter-omgewing waar die verdagte sy voormalige vriendin ontvoer en verkrag het, het Maponya gesê.Die man is aangekla van verkragting, ontvoering en opsetlike saakbeskadiging. Die hofsaak het bykans twee jaar geduur. Die man is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis.