Local newsNews

Sakeonderneming ontsmet ná positiewe geval van Covid-19

“Ons het onmiddelik stappe geneem om die veiligheid van al die werknemers en kliënte te verseker en die nodige maatreëls is gevolg.”

Die bestuurspan van OK Mokone in Mookgophong het inwoners op Donderdag 23 Julie laat weet dat een van die onderneming se werknemers positief getoets is vir die Covid-19-virus en die onderneming daarom sy deure tydelik toetrek.

“Ons het onmiddelik stappe geneem om die veiligheid van al die werknemers en kliënte te verseker en die nodige maatreëls is gevolg,” het Mokone du Preez, eienaar van die winkel, aan Die Pos gesê.

Die winkel is vir ’n dag gesluit en die departement van gesondheid en ’n span van OK-hoofkantoor het toegesien dat die hele gebou ontsmet word.

’n Sertifikaat is op Vrydag 24 Julie uitgereik om te bevestig dat die korrekte maatreëls gevolg is.

Volgens Du Preez is al die werknemers wat met die pasiënt in aanraking was, in isolasie geplaas en sal hulle ook vir die toetse gestuur word indien hulle simptome van die virus toon.
Hy het ook die versekering gegee dat alle personeellede en kliënte die nodige siftingstoetse ondergaan voordat hulle die winkel betree. Personeellede voltooi daagliks ’n vorm waarop hulle vrae oor hul gesondheid moet beantwoord.

Lede van die departement van gesondheid het die winkel weer op Dinsdag 28 Julie, op versoek van Du Preez, besoek om seker te maak dat die perseel steeds veilig is.

“Indien iemand simptome van die virus toon, sal hulle vir toetse verwys en dadelik vir tien dae in selfisolasie geplaas word. Ons tree absoluut voorkomend op,” het hy gesê.

Marlene van Staden, burgemeester, het die OK besoek nadat die winkel ontsmet is.

Related Articles

Back to top button