NewsSchools

Thabazimbi skitter by digitale dramafees

Die ATKV-KunsteGrot digitale dramafees het op Donderdag 16 Julie sy hoogtepunt bereik toe verskeie deelnemers van die RiVo-dramaskool in Thabazimbi medaljes en trofeë tydens die toekenningsgeleentheid ontvang het.

Rita Volschenk, die studente se drama-afrigter en eienaar van die KunsteGrot in die dorp, het aan Die Pos gesê dié ATKV-dramafees is digitaal en in lyn met die nuwe Covid-19-regulasies aangebied. Die Pierneef Teater se digitale kunstefees is vroeër vanjaar ook met groot sukses op ’n digitale platform aangebied.

“Dinge word maar in hierdie vreemde tye effe anders gedoen. Ons nuwe leuse is: pas aan en gaan aan,” het sy bygevoeg.

Volschenk het in kommentaar op die uitslae gesê die RiVo-dramastudente se selfdissipline en deursettingsvermoë het onder moeilike omstandighede sterk uitgestaan.

Ouers kon die geleentheid bywoon en elke gesin het aan hul eie tafel gesit. Gesigmaskers is gedra, hande ontsmet en sosiale afstande behou.

Die beoordelaar was die ervare Christo Potgieter van die Raad vir Afrikaanse Beoordelaars (RAB) en in sy stemnota wat tydens die geleentheid gespeel is, het hy deelnemers geloof en gelukgewens met die hoë standaard van hul werk. Die beoordeling was ’n gewigtige taak met 50 items wat beoordeel moes word.

Hannes Coetzee van Thaba SuperSpar, hoofborg van die KunsteGrot, het die oorhandiging van die trofeë behartig. Die uitslae het 14 kategoriewenners, vier trofeewenners, 27 A++, 21 A+ en 2 A-toekennings ingesluit.

Die trofeëwenners was Ané Viljoen vir poësie (gr.9 met 96%), Lieselotte Smit vir gedramatiseerde poësie (gr. 10 met 98%), William Niemand vir prosa (gr.12 met 97%) en Nelita Janse van Rensburg vir monoloog (gr. 10 met 100%).

Related Articles

Back to top button