Local newsNews

Kokanje-oord tree gou op ná virusgevalle

’n Egpaar van die Kokanje-aftreeoord in Modimolle het die afgelope week positief vir die Covid-19-virus getoets.

Volgens Anina Pretorius, die oord se bemarkingsbestuurder, het die egpaar, onderskeidelik 66 en 64 jaar oud, hulself in hul woning geïsoleer sedert hulle begin olik voel het. Hulle het hul toetsuitslag op Maandag 20 Julie ontvang.

“Dit gaan onder omstandighede goed met hulle,” het sy gesê.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Die egpaar weet nie waar hulle die virus opgedoen het nie. Die vrou moes opgeneem word vir ’n operasie in ’n Pretoria-hospitaal en ’n roetine Covid-19-toets is in Limpopo uitgevoer. Sy was baie verbaas toe sy verneem dat die uitslag positief was en dat sy die virus onder lede het. Die egpaar het nie buite die provinsie gereis nie.

Aftreeoorde en ouetehuise wêreldwyd het streng maatreëls ingestel nadat die pandemie in Europa getoon het dat ouer mense baie blootgestel is. Bejaardes is minder weerbaar teen die virus en word sieker as die meeste jonges. Vinnige optrede is daarom nodig om die verspreiding te verhoed. Die pandemie het aftreeoorde wêreldwyd genoodsaak om gebeurlikheidsplanne in te stel.

Die voordeel wat lande het waar die virus eers later sy piek bereik het, is dat hulle kan leer uit ander se optrede. Hoewel dié streng maatreëls by aftreeoorde deur baie as onnodig be-
perkend ervaar word, is dit volgens kenners lewensbelangrik.

“Ons het reeds geruime tyd ’n deeglike Covid-19-plan en riglyne teen ’n uitbreking in Kokanje,” het Pretorius gesê. Daar is reeds in Maart besluit dat slegs een persoon per woning wegneemetes by die eetsaal mag afhaal, waar inwoners voorheen gesellig saam gekuier het. Die versorgingseenheid is sedert die begin van die inperking gesluit vir besoekers en streng maatreëls word gehandhaaf vir toegang tot die oord. Inwoners is gemaan om hul besoeke aan die dorp te beperk.”

Ingevolge die oord se gebeurlikheidsplan is inwoners in drie groepe verdeel waarvolgens daar opgetree sal word sodra iemand positief getoets word.

In die eerste groep is diegene wat selfversorgend is. Die verpleegbestuurder sal hulle, saam met ’n versorger in beskermde kleredrag, besoek. Indien die inwoners self kan bestuur, kan hulle hulself by die Phodi-kliniek in Bela-Bela laat toets, andersins sal hulle per ambulans soontoe geneem word. Hulle sal in selfisolasie in hul huise kan bly totdat die uitslag van die toets ontvang word.

Die tweede groep is inwoners wat reeds tuisversorging ontvang. ’n Deeltydse versorger sal aangestel word indien hulle positief toets. Indien die inwoner verder verswak, maar nie asemnood ervaar nie, sal die versorger 24-uur aan diens wees. Hul toestand sal daagliks gemoniteer word en reëlings vir hospitalisasie sal getref word indien nodig.

Die derde groep is die inwoners in die versorgingseenheid. Indien enigeen van hulle positief vir die virus toets, sal hulle onmiddellik geskuif word na ’n tienbed-versorgingseenheid wat elders ingerig is om te voorkom dat ander inwoners aansteek. Dié tydelike eenheid is in oorleg met ’n verteenwoordiger van die departement van gesondheid ingerig. Daar word voorsien dat inwoners slegs twee tot drie dae daar versorg word voordat hulle na ’n hospitaal oorgeplaas word.

Die huise van inwoners wat in selfisolasie is, sal met kennisgewings gemerk word en geen besoekers sal toegelaat word nie.


Baie dankie aan Pavecon sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button