Local newsNews

Covid-19-toetse word steeds gratis by staatshospitale gedoen

Volgens voorskrifte moet pasiënte eers simptome hê voordat hulle ’n dokter besoek of laat toets vir Covid-19.

Met al hoe meer Suid-Afrikaners wat positief vir die Covid-19-virus toets, kry Die Pos ook al hoe meer navrae oor die koste van dié toetse, asook navrae oor waar die toetse gedoen kan word.

Statistieke toon dat meer as 5 386 Suid-Afrikaners reeds aan die virus gesterf het en dat meer as 2,5 miljoen toetse reeds gedoen is.

Woordvoerders van die departement van gesondheid, asook van die Covid-19 nasionale inbelsentrum, het herhaaldelik aan Die Pos gesê dat Covid-19-toetse gratis by staatshospitale gedoen moet word. Dit volg ná hardnekkige gerugte dat daar staatsdokters is wat glo geld vir dié toetse vra.

Risham Maharaj, DA-woordvoerder van gesondheid in Limpopo, het by navraag gesê daar is wel fooie wat by staatshospitale gehef word, maar slegs vir ander hospitaaldienste en nié vir Covid-19-toetse nie.

Lindy Wilson, LP en die DA se adjunkskaduminister van gesondheid, het by navraag gesê privaat laboratoriums se koste wissel tussen R850 en R1 000 per toets.

“Indien enigiemand ’n rekening ontvang terwyl of nadat hulle by ’n staatshospitaal vir Covid-19 getoets is, moet hulle my daarvan in kennis stel,” het Wilson gesê.

Wilson kan bereik word by tel. 082 353 9648.

  • Staatshospitale se algemene prysskedule per diens kan op die webtuiste www.health.gov.za bekom word.

Volgens voorskrifte moet pasiënte eers simptome hê voordat hulle ’n dokter besoek of laat toets vir Covid-19. Simptome sluit in koors, moegheid, ’n droë hoes, pyn, swak reuk- en smaaksintuie, ’n loopneus, seer keel, diarree of asemnood.

Mense met onderliggende mediese probleme soos hoë bloeddruk, hartprobleme of suikersiekte, is meer geneig om ernstig siek te word.

Related Articles

Back to top button