Local newsNews

Staatmakers van Modimolle groet ná 35-jaar

Totsiens en baie dankie vir mooi vriendskappe, sê Piet en Lynette Venter wat die Modimolle-gemeenskap ná 35 goeie jare op die dorp groet.

Die egpaar verhuis einde Augustus na Randburg waar hulle naby hul dogters, Almarie en Nelma, sal wees.

Piet was 27 jaar lank by die NTK, wat later VKB geword het, se administrasie en versekeringsafdeling betrokke. Lynette het lank by Laerskool Eenheid onderwys gegee en is veral bekend vir die mooi matriekafskeid- en trourokke wat sy gemaak het. Sy het ook opvoerings vir die skool en kerk geskryf. Die egpaar was lank by die Gideonsbeweging betrokke.

“Ons het albei in Louis Trichardt grootgeword en het ’n groot liefde vir die Bosveld. Aftrede by die see is glad nie vir ons so ’n aantreklike idee as vakansies in die Krugerwildtuin nie,” het Piet gesê. Die egpaar gaan vir hulle ’n huis by hul dogter Nelma bou. “Ek gaan ’n ekstragroot motorhuis bou sodat ’n mens darem plek het om ’n paar houtjies aanmekaar te slaan!”

“Ons sien baie daarna uit om by die kinders en kleinkinders te wees, maar ons neem ook swaar afskeid van die dorp. As ’n mens ouer word, maak ’n mens nie meer so maklik vriende nie en ons het waarlik hartsvriende hier gemaak. Ons dink met vreugde terug aan die tyd dat ons hier gewoon het,” het Lynette gesê.

Related Articles

Back to top button