Local newsNews

OG-verslag dui op swak bestuur van munisipale leiers

“Sonder behoorlike ondersoek is daar geen gevolge vir oortreders nie en ongewenste uitgawes sal tot nadeel van die belastingbetaler met swak dienslewering voortduur.”

Swak bestuur, onoordeelkundige besteding, moontlike korrupsie en ongerymdhede is maar van die kwetsende woorde wat vandeesweek in die ouditeursgeneraal (OG), Kimi Makwetu, se nasionale munisipale ouditverslag van 2018-2019 opgeduik het.

Die meeste munisipaliteite landwyd het ’n sterk boodskap van kommer oor hul finansiële bestuursvermoë van Makwetu ontvang. Daar is slegs 20 munisipaliteite wat skoon oudits ontvang het en in Limpopo was dit net die Capricorn-munisipaliteit wat die oudittoets geslaag het.

Bela-Bela het weer vanjaar ’n gekwalifiseerde oudit met bevindinge van ongerymdhede van die OG ontvang.

Makwetu het in ’n verklaring gesê Bela-Bela se munisipale komitee vir openbare rekeninge het foute in hul verslae aan die OG gemaak wat die afskryf van munisipale skuld en onregmatige besteding betref.

Die munisipaliteit kon glo ná ondersoeke nie vasstel wat die oorsaak van hul wanbesteding was of wie die verantwoordelike amptenaar daarvoor was nie, het Makwetu gesê. Daar was ook geen sekerheid of die munisipaliteit ooit die verkwiste geld sal kan verhaal nie.

“Sonder behoorlike ondersoek is daar geen gevolge vir oortreders nie en ongewenste uitgawes sal tot nadeel van die belastingbetaler met swak dienslewering voortduur. Daar was geen verbetering by die munisipaliteit nie en geen gesamentlike pogings is deur die politieke leierskap aangewend om diensleweringskwessies aan te pak nie. Dié dorp het belowende vooruitsigte as gewilde toeristebestemming. Die indruk is dat die leierskap nie omgee nie,” het Makwetu gesê.

Die openbare rekeningekomitee is ook oor die kole gehaal. Die OG het bevind hulle beskik nie oor die nodige vaardighede nie en dat hulle self onseker is oor wat hul rol by die munisipaliteit is.

Makwetu het voorts kritiek uitgespreek dat die bestuurskomitee politiek as hul dryfveer gebruik wat die lede se objektiwiteit en verantwoordbaarheid stuit.

Luidens die OG se verslag het die munisipaliteit in gebreke gebly om uitstaande skuld in te vorder. Dit het luidens die verslag daartoe gelei dat 87% van die totale skuld nog uitstaande is en waarskynlik nooit ingevorder sal word nie. Verder het die munisipaliteit se bedryfslaste (R172 miljoen) die totale waarde van al hul bates (R45 miljoen) oorskry.

Die munisipaliteit se krediteurrerekening wat aan die einde van die boekjaar R74 miljoen beloop het, het die R18 miljoen totale kontant wat aan die einde van die boekjaar beskikbaar was, by verre oortref, het Makwetu gesê.

Weens die swak invordering kon die munisipaliteit nie die begrote inkomste van R131 miljoen haal nie. Selfs met die groot agterstand het die munisipaliteit besluit om hul krediteure opsy te skuif en eerder hul prioriteitsuitgawes, soos salarisse, te betaal, aldus die OG.

“Die instandhouding van infrastruktuur behoort een van die belangrikste fokusareas van die munisipaliteit te wees, maar dit was egter nie hier die geval nie. Die munisipaliteit het slegs R7 miljoen aan herstelwerk en instandhouding bestee.” Die totale inkomste van die munisipaliteit was R450 miljoen vir dieselfde boekjaar.

Die stadige tempo waarteen munisipale infrastruktuur aangebring is, was vir die OG nog ’n bron van kommer.

Die munisipaliteit het voorts R10 085 187 op slegs drie konsultante bestee wat boekhouding, finansiële- en batebestuurdienste aan die munisipaliteit verskaf het.

  • Die munisipaliteit het die verslag van die OG in die nuutste geïntegreerde ontwikkelingsplan-dokument (GOP) vir die huidige boekjaar (2020/2021) bespreek waartydens elke verwysing van die OG in detail genotuleer is. Die hoofstuk wat handel oor die OG se bevindinge het meer as 50 bladsye beslaan. Foute wat uitgewys is, is onjuiste optekening van inkomste en uitgawes, rekordhouding van bates, instandhoudingprobleme, begrotings wat nie geklop het nie asook die hantering van munisipale kontrakte en tenders.Die nuwe GOP en die munisipale begroting is reeds goedgekeur en het op Woensdag 1 Julie in werking getree. Teen Dinsdag 14 Julie was die begroting, wat die nuutste tariewe bevat, steeds nie beskikbaar gestel nie. Die Pos het talle navrae aan die munisipaliteit gerig, maar teen druktyd geen inligting ontvang nie.

Related Articles

Back to top button