Local newsNews

Bejaardesorg: Hiep hiep hoera vir inwoner wat 99 word

“Ek voel regtig nie ingeperk nie. Almal kyk goed na ons en ons voel soos ’n span.”

Talle inwoners van die Warmbad Rusoord se Tuiste vir Bejaardes sal ná dese kan sê hulle het oorloë, die depressiejare, die koms van tegnologie, verskillende regerings en nou ook ’n wêreldwye pandemie beleef.

Die Rusoord-bestuur het sedert Maart streng maatreëls ingestel om hul inwoners se gesondheid te beskerm, maar dié maatreël is ook swaar vir inwoners wat reeds vir meer as 100 dae slegs per telefoon met hul geliefdes kan kommunikeer.

Daar is baie dankbaarheid dat niemand by die oord nog die virus opgedoen het nie, maar die verlange na kinders, kleinkinders en vriende is groot.

Vir een inwoner, Maurÿn du Toit, is hierdie vreemde tyd iets om te onthou. Sy is reeds 18 jaar ’n inwoner van Rusoord en vier op Dinsdag 14 Julie haar 99ste verjaarsdag.

“Ons toegang tot die buitewêreld is beperk, maar ons het steeds die vryheid om binne ’n veilige afstand met mekaar te kuier. Niemand hier is werklik swaarmoedig nie en ek verkies om na die blink kant van die saak te kyk,” het sy gesê.

“Daar is nie eintlik inwoners hier wat daarna smag om rond te reis nie, maar ons mis ons kinders. Al kan ons met hulle oor die selfoon praat, was die besoeke altyd iets kosbaars. Ek voel regtig nie ingeperk nie. Almal kyk goed na ons en ons voel soos ’n span.”

Die feit dat die inwoners steeds onder veilige omstandighede gereelde bidure en kerkdienste by die oord kan bywoon, gee vir almal rus en vrede in hul gemoed, het sy vertel. Ds. Kokkie Kok, oudleraar van Bela-Bela, is self ’n inwoner van Rusoord en hy sien om na die geestelike behoeftes van die bejaardes.

“Ek mis my haarkapper ontsettend baie maar daar word steeds baie goed na ons omgesien,” het sy gesê.

“Hoe ouer ’n mens word, hoe meer is jy geneig om dinge om jou te aanvaar. Bejaardes weet hoe om aan te pas by veranderde omstandighede, want as jy byvoorbeeld nie meer kan lees nie, luister jy na iets of iemand,” het sy telefonies aan Die Pos gesê.

“My boodskap aan mense is as hulle by die bestaande veiligheidsreëls om die pandemie te bekamp hou, het hulle niks om te vrees nie.”

Related Articles

Back to top button