Local newsNews

Bejaardesorg: Ouderdom is net ’n nommer

“Oudword is nie vir sissies nie,” is ’n uitdrukking wat ’n mens baie hoor.

Tog is daar talle bejaardes vir wie dié tyd in hul lewens werklik die sogenaamde”goue jare” is.

Die Pos het by ’n afgetrede egpaar in Mookgophong gaan kuier om uit te vind wat hulle jonk van gees hou.

Christo (68) en Wilna (70) Klopper het in Maart 2018 afgetree en in Gholfpark in die dorp gaan woon. Hulle was besige mense en Christo het sy eie vervoeronderneming in Rustenburg bedryf.

“Vandat ons afgetree het, is daar nie meer bekommernisse oor die sakeonderneming en werknemers se probleme nie en ons slaap baie beter en later as voorheen,” het Wilna vertel.

Die twee hou van die buitelewe en kamp of reis gereeld. Hulle deel ook dagtake wat die huishouding vergemaklik en albei voel dat begrip vir mekaar se skete en pyne baie belangrik is. Albei hou daarvan om kos te maak en beproef gereeld nuwe resepte.

“Ons ontspan graag saam en die bonus is om saam met jou kinders en kleinkinders te kuier. Dit hou ’n mens jonk,” het hulle skertsend vertel.

“Mense wat getrou gespaar het en hul geld goed belê het, kan op hul oudag rustig leef en het meer tyd om vakansie te hou. Dit is kos vir die siel om in die Bosveld, langs die see, berge en riviere te kampeer,” het Christo gesê.

Hulle beplan uitstappies lank vooruit en die uitsien en gereed maak vir hul togte is deel van die opwinding.

Dit is ’n voorreg om rustiger te leef en hulle glo dat dit is wat hulle “jonk” hou.

“Dit is bepalend vir jou geluk om die ouderdom, en alles wat daarmee gepaard gaan, te aanvaar. Bly positief en wees dankbaar vir genade van Bo,” is albei se siening oor oud word.

Related Articles

Back to top button