Local newsNews

Bejaardesorg: So kies inwoners hul aftreeplek

Elkeen soek iets anders in die ideale aftreeplek — die gesegde lui nie verniet jou huis is waar jou hart is nie.

Of dit nou naby vriende en familie, by die see of in die mooi Bosveld, peperduur of bekostigbaar, groot en gemaklik of klein en maklik hanteerbaar is.

Die Waterberg het ’n gewilde aftreebestemming vir mense van regoor die land geword, maar veral van Gauteng.

Die Bosveld word beskou as steeds naby aan die groot stede, maar met die voordeel van ’n rustige atmosfeer en min verkeer.

Die Pos het gaan aanklop by ’n paar afgetredenes om uit te vind waarna hulle gekyk het toe hulle ’n aftreehuis gesoek het.

Pieter en Magda Pretorius van Bosveldsig in Modimolle het gesê die Bosveld se matige klimaat was ’n groot aantrekkingskrag.

Die winters is nie te koud nie en die wind waai ook nie aanhoudend nie. “Ons het gekyk na ’n plek waar die omgewing netjies in stand gehou word, die oord goed bestuur word en veilig is. Ons het ook na ’n netjiese, gehalteplek gesoek,” het Pieter gesê.

“Hoewel hier nie ’n mediese sentrum is nie, kry inwoners uitstekende diens van die ambulansdienste en die huisdokters op die dorp.”

Die gevoel dat hul fase met sy 45 huise ’n omgeegemeenskap is, is een van die groot voordele. Een van die inwoners, Annatjie du Plessis, het op Saterdag 11 Julie haar 90ste verjaardag gevier.
Die inwoners het moeite gedoen om haar te bederf.

“Sy is die oudste inwoner in ons fase en is ’n voorbeeld vir almal. Sy is nog baie aktief en sy hou haar huis en tuin netjies. Sy praat ons moed in en dra geskenkies aan,” het Magda gesê.

Dié goeie verhoudinge is egter wedersyds met ander inwoners in die fase wat haar op hul beurt bystaan met inkopies doen en besoeke aan die dorp.

Du Plessis, wat sedert 1982 in Modimolle woon, bring vanjaar haar 16de jaar in haar Bosveldsighuis deur.

“Ek kan eerlik sê dat die tyd wat ek hier deurgebring het, van die gelukkigste in my lewe was. ’n Mens kry nie ’n beter gemeenskap as wat ons hier het nie,” het sy gesê.

Flip en Tessa Snyders was die eerste inwoners wat by die Negester-aftreeoord tussen Bela-Bela en Modimolle ingetrek het nadat hulle jare lank in Modimolle gewoon het. “Een van die grootste pluspunte vir ons was dat Negester ’n versorgingseenheid het. ’n Mens wil nie ’n las vir die kinders wees wanneer jou gesondheid versleg nie,” het Tessa gesê.

Hulle woon al bykans vyf jaar in die oord.

“Negester het vir ons meer spasie gegee waarvan ons baie gehou het,” het sy gesê.

Burgert en Sus Pienaar woon al 11 jaar in die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle. Hulle het vooraf navorsing gedoen oor aftreeplekke en gevind die plekke in die stad is baie duur.

“Ons het mense geken wat in Kokanje gewoon het en kon sien hoe dit is,” het Sus gesê.

Die oord se gemeenskapsgevoel en die feit dat daar ’n versorgingseenheid en tuisversorgingsdiens is, was van die ander pluspunte. Danksy die eetsaal hoef ’n mens nie elke dag te kook nie en inkopies is dus baie minder.

Related Articles

Back to top button