NewsSchools

Hansies maak ’n slim plan met ‘outydse inryteater’

Met al die finansiële uitdagings wat skole tydens die grendeltyd moet hanteer, het die Hansies ’n vindingryke plan beraam om geld in te samel.

Rudolph de Vos, bemarker van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, het ’n outydse “inryfliek” voorgestel om geld in te samel. Daar is dadelik aan die werk gespring om die hokkieveld in ’n inryteater soos van ouds te omskep. ’n Koeltrok van ’n bekende slaghuis in Mokopane is gebruik om as grootskerm te dien.

“Ons aanvanklik plan was om die fliek op Saterdag 4 Julie te vertoon, maar ons moes inderhaas die datum na Saterdag 11 Julie skuif omdat ons nie rekening gehou het met die helder volmaan in die eerste week van Julie nie,” het De Vos gesê.

Ten spyte van die koue weer wat die dorp getref het, het die motors tou gestaan om in te kom. Die oudste egpaar was in hul tagtigs en het die koue trotseer om die inry by te woon.

“Die film “The good, the bad and the ugly” het drie uur lank gedraai, maar dit was alles deel van die pret,” het Marina Gravett, waarnemende adjunkhoof van die Hansies, aan Die Pos gesê.

’n Kafeteria is in een van die verversingslokale ingerig en fliekgangers kon heerlike burgers en skyfies, geroosterde broodjies en stomende koffie en warmsjokolade bestel en in die gerief van hul motors geniet. Die fliekgangers het reeds hul bestellings by die hek geplaas en leerders wat gepantser was met maskers en ontsmettingsmiddels het as kelners opgetree en die kos uit mandjies bedien. Fliekgangers kon met die flikker van hul noodligte ekstra bestellings by die kelners plaas.

“Dit was ’n groot sukses en ons gaan beslis weer so maak, “ het De Vos gesê.

“Dit is net soos toe ons jong-mense was. Ek kort nou net weer ’n kêrel soos toe ek jonk was,” het een van die ouer vroue, wat anoniem wou bly, skertsend gesê.

Related Articles

Back to top button