Local newsNews

Sendeling getuig oor genesing ná Covid-19

“My huismense moes maar kos aan my voorsien sonder direkte kontak, al moes hulle dit met ’n kettie in my kamer inskiet,” het hy geskerts.

  1. Gebed, afsondering en ’n gesondheidsresep.

Dít is wat hom deur deur sy stryd teen die gevreesde Covid-19-virus gedra het, het ’n sendeling en bekende oudinwoner van Bela-Bela die afgelope week aan Die Pos vertel.

Paul en Engela Kuhn was jare lank die sendelingegpaar betrokke by die NG Moedergemeente in Bela-Bela. Hulle het ’n paar jaar gelede na Jeffreysbaai in die Oos-Kaap verhuis en dit is daar waar hulle verlede maand die tyding gekry het dat Paul positief getoets is vir die virus.

Die egpaar is nie seker waar hy met die virus besmet is nie.

“Die dag toe ek simptome begin toon het, het ek dadelik in ’n aparte kamer in ons huis ingetrek en alle kontak met ander mense verbreek. My huismense moes maar kos aan my voorsien sonder direkte kontak, al moes hulle dit met ’n kettie in my kamer inskiet,” het hy geskerts.

Paul het tydens sy sendingjare in Mosambiek meer as een keer malaria opgedoen waartydens hy met min basiese gesondheidsdienste in die vreemde moes oorleef. Covid-19-simptome is egter ’n “perd van ’n ander kleur”, het hy aan Die Pos gesê, want saam met die seer lyf en moegheid, sluit Covid-19 ook asemhalingsprobleme in.

“Ek glo steeds dat parasetamol vir alles werk, maar dit is die krag van gebed wat die deurslag gee. Toe ek Covid-19-simptome ervaar het, het ek dadelik drie keer per dag Disprin-tablette begin drink en ’n tonikum van vitamines en kruie geneem om my immuunstelsel ’n hupstoot te gee. Engela het ook dieselfde mengsel gebruik om haar weerstand te verhoog. Dit is ’n mediese feit dat Disprin-tablette ’n mens se bloed verdun.”

Hy het verder gesê dit was vir hom gemakliker om tydens sy siekbed op sy maag te slaap.

“Teen dag ses van afsondering het die ongemaklike simptome stadig verbeter en geleidelik verdwyn. My ervaring het my geleer dat dit beteken my liggaam is besig om te herstel.”

Paul het gesê hy en Engela is ongelooflik dank verskuldig aan die mense van Bela-Bela wat vir hom en sy gesin in hierdie tyd gebid het.

“Ons is so dankbaar en wil graag vir die inwoners sê dat ons steeds baie lief is vir hulle.”

Hoewel hy weer op die been is, het hy besluit om sy bedieningswerk vir eers opsy te skuif en voorbereiding te doen vir wanneer hy weer die sendingveld voltyds betree.

“Ek voel die Here het my geroep om in Transkei te gaan werk, maar dit moet dalk eers wag. My ander bedieningsplekke soos Madagaskar en Lesotho is hard deur die virus getref. Ek is lief vir Afrika en ek glo die pandemie sal ons net sterker maak,” het hy gesê.

“Navorsers en medici werk baie hard om die virus te bekamp en te beheer, maar ek glo daar is ’n rede waarom God nog nie die deurbraak aan hulle openbaar het nie.”

Paul het gesê mense moet intussen let op hul gesondheid en hoewel hy geensins aanvoer dat sy “resep” teen Covid-19 ’n wonderkuur is nie, getuig hy dat dit vir hóm gewerk en beslis sy immuunstelsel versterk het.

Mense wat simptome toon, moet egter hul dokters raadpleeg en hulle voorskrifte vir behandeling getrou volg, was sy raad, want wat vir een mens werk, werk nie noodwendig vir die volgende nie.
Paul se gesondheidsresep wat hy en sy vrou gevolg het terwyl hy siek was, sluit die volgende in:

• Een Disprin drie maal per dag.
• Een Panado drie maal per dag.
• Een sinustablet drie maal per dag.
• Een vitamiene C-bruistablet een keer per dag.
• Een vitamiene D-tablet een keer per dag.
• Vier skyfies gemmerwortel per dag.
• Een knoffelhuisie per dag.
• Een teelepel Bovril per dag.
• Een handvol grondbone per dag.
• Minstens een gebalanseerde maaltyd per dag.
• Gebed van kosbare familie en vriende.
• Leef in Sy genade.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button