Local newsNews

Hof, skool toe ná positiewe toetse

Volgens die departement van gesondheid was daar teen Dinsdagoggend 7 Julie altesame 12 mense wat siek was in die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit uit 20 gevalle wat tot dusver aangeteken is.

Die koronavirus het vandeesweek tande in die Waterberg gewys met skole en ’n landdroskantoor wat noodgedwonge moes sluit en die aantal inwoners met die virus wat aansienlik gestyg het.

Die landdroshof in Modimolle is op Dinsdag 7 Julie en Woensdag 8 Julie gesluit om ontsmet te word nadat een van die landdroste positief vir die virus getoets het. Al die personeel is aangesê om vir twee dae lank te self-isoleer en enigeen wat simptome ontwikkel sal getoets word, het Renier van Rooyen, senior staatsaanklaer, aan Die Pos bevestig.

Hoërskool Warmbad is ook tydelik toe nadat ’n leerder positief getoets is.

Volgens die departement van gesondheid was daar teen Dinsdagoggend 7 Julie altesame 12 mense wat siek was in die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit uit 20 gevalle wat tot dusver aangeteken is. Ses mense het reeds herstel en twee sterftes is aangeteken. Geen verdere besonderhede word verskaf nie om die pasiente en hul families teen viktimisasie te beskerm. Volgens inligting wat Dinsdag in die distriksraad se vergadering deur die departement gegee is, is daar ses mense wat by die MDR-hospitaal in Modimolle opgeneem is met die virus.

In Bela-Bela was daar 22 mense wat siek was uit 31 gevalle wat tot dusver aangeteken is. Daar is een sterfte op rekord en agt mense het reeds herstel.

Thabazimbi word hard getref met 161 positiewe gevalle. Daar was tot op hede 225 mense wat positief getoets het met 64 mense wat herstel het. In Lephalale is daar 80 mense wat siek is uit 123 gevalle wat aangemeld is. Daar het reeds 43 mense herstel. Die Waterberg-distrik word die ergste in die provinsie geraak.

Daar is in die 24 uur voor druktyd vandeesweek 82 nuwe gevalle in die provinsie aangemeld wat die totaal op 1 802 positiewe aangemelde gevalle te staan bring. Daar was ’n groot sprong in die sterftesyfer met 17 mense wat oor die naweek aan die virus gesterf het. Volgens die departement van gesondheid is daar reeds 35 864 toetse in die provinsie gedoen is. Die provinsie het reeds 31 sterftes aangemeld met 665 mense wat herstel het.

Ander gebiede in Limpopo wat hoë virustellings het, is Polokwane met 248 gevalle (371 tot dusver aangemeld met 13 sterftes), Fetakgomo-Tubatse met 76 gevalle (264 in totaal), Elias Motswaledi (Groblersdal) met 73 siek mense (85 totale gevalle) en Thulamela in Thohoyandou met 68 siek mense uit 108 gevalle wat aangemeld is.

Die land het op Maandag 6 Julie die 200 000-kerf oorgesteek. Van dié mense het 97 848 herstel, wat die herstelkoers op 47,6% te staan bring.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button