MunicipalNews

Munisipaliteite kry dwarsklap van ouditeur-generaal

Die Capricon-distrik is die enigste in Limpopo wat ’n skoon oudit gekry het.

Die nuutste verslag van die ouditeur-generaal (OG) oor die stand van munisipaliteite is soos vroeër jare ’n treurmare oor wanbesteding, bedrog en onbekwaamheid.

Luidens die verslag oor die 2018/2019 boekjaar wat op Woensdag 24 Junie bekend gemaak is, het slegs 8% van die land se munisipaliteite skoon oudits ontvang — die oorgrote meerderheid hiervan in die Wes-Kaap. Die verslag het aangedui dat munisipaliteite gemiddeld 180 dae neem om hul krediteure te betaal en dat onreëlmatige uitgawes van meer as R32 miljard aangeteken is.

Die Capricon-distrik is die enigste in Limpopo wat ’n skoon oudit gekry het.

Die ouditeur-generaal het vingers na die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit gewys en gesê miljoene rande se ongemagtigde, vrugtelose en vermorste besteding is nie ondersoek nie. “Die drie politieke partye in die raad kon nie konsensus bereik oor die proses wat gevolg moes word om ’n ondersoek te loods na die besteding nie. In sommige gevalle is van die uitgawes goedgekeur sonder enige inagneming van die omstandighede waaronder dit gemaak is,” het die OG bevind.

Marlene van Staden, burgemeester, het by navraag gesê daar is wel sake aanhangig wat tans deur die Valke-eenheid ondersoek word.

Sy het gesê dit lyk asof die munisipaliteit nog nie vordering gemaak het met hul ouditresultaat nie, maar daar is verskeie pogings aangewend om die bestuur van die munisipaliteit se geldsake te verbeter.

“Daar is verskeie dinge wat ’n verbeterde ouditresultaat bemoeilik. Dit sluit in die finansiële dokumente van die twee voormalige munisipaliteite (Modimolle en Mookgophong), asook die vorige boekjaar, waaroor daar nie rekenskap gegee kan word nie. Daar is ook teenstrydighede in verskeie dokumente wat by die OG ingedien is en rente wat betaal is op die skuld wat van die twee vorige rade geërf is. Dit sluit Eskom-skuld in wat opgehoop het. Dit word as verkwiste en vrugtelose uitgawes geag.”

Van Staden het gesê nooduitgawes moet vir water en elektrisiteit aangegaan word weens die slegte toestand van infrastruktuur en dit word as onreëlmatig uitgawes geklassifiseer.

“Sedert die samesmelting van die twee munisipaliteit het ons — ten spyte van ’n antagonistiese administrasie in die eerste jaar en ’n half — baie hard gewerk om die munisipaliteit te stabiliseer, finansieel volhoubaar te maak en dienslewering te verbeter.”

Volgens haar is daar verskeie planne om sake te verbeter. “’n Oudit-aksieplan is opgestel om 204 oudit-navrae te hanteer. Die helfte daarvan is reeds voltooi. Die oudit-bestuurskomitee ontmoet weekliks en daar is gereelde ontmoetings met die OG om advies in te win. Ons neem deel aan die tesourie se munisipale finansiële verbeteringsprogram met ’n adviseur wat by die munisipaliteit gestasioneer is. Daar is ook ’n munisipale openbare rekeninge komitee (MPAC) en ouditkomitee wat alle ongemagtigde, onreëlmatige of vrugtelose en verkwiste uitgawes ondersoek en verslag daaroor aan die raad lewer,” het sy gesê.

Sy het gesê daar is ’n forensiese ondersoek oor die ongewenste uitgawes geloods en kriminele klagtes is deur die Valke geopen. Daar is ook disiplinêre stappe teen amptenare geneem. Die ooreenkomste met diensverskaffers wat in die vorige boekjaar onreëlmatig aangestel is, is beëindig.

Van Staden het gesê die implementering van ’n finansiële herstelplan wat ten doel het om inkomste te verbeter, maak goeie vordering. Daar word weeklikse betalings aan Eskom gemaak en daar is betalingsooreenkomste met uitstaande krediteure getref.

“Ek is bly dat ons verlede jaar die finansiële state betyds ingedien het en weer op koers is om dit vanjaar reg te kry. Om ’n wanfunksionele munisipaliteit reg te ruk, is nie maklik nie en dit gebeur nie oornag nie, maar ek is trots op die vordering wat die munisipaliteit gemaak het. Ons gaan voort met ons pogings om hierdie in ’n uitstekende munisipaliteit vir alle inwoners te omskep.”

Related Articles

Back to top button